Submit an article to Indago - a peer reviewed journal
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal

Myte is alomteenwoordig.  Hulle kom op plante, in die grond en op ander diere, insluitend die mens, voor.  Ja, op jou en veral op jou gesig.  Myte is baie klein ongewerweldes en het vier paar pote, wat hulle verwant aan spinnekoppe maak.

‘n Soort myt wat algemeen op soogdiere (en dus ook mense) voorkom, is Demodex.  Hulle is baie klein (sowat 0.2 – 0.4 mm lank) en lyk amper soos klein wurmpies, met vier paar kort pootjies na aan mekaar aan die voorkant.  Die woord Demodex is afgelei van die Grieks demos, wat vet beteken, en dex, wat na ‘n grawende wurmpie verwys.  Dus, ‘n wurmpie wat in vet grawe.  Hierdie myte is reeds sedert 1841 bekend.  Daar is tot dusver sowat 65 spesies beskryf, en twee hiervan kom op mense voor.  Demodex is baie gasheerspesifiek, met ander woorde elke soogdierspesie het sy eie Demodex-spesie en dit is tot dusver nie bekend dat enige Demodex-spesie na ‘n ander soogdierspesie ‘oorgeloop’ het nie.  In diere veroorsaak hulle brandsiek wat die ergste by honde, bokke en varke voorkom, minder by beeste en perde, en selde by katte.  Demodex kom ook op wilde diere voor, hoewel nie naastenby alle soogdiere hiervoor getoets is nie. 

Die myte wat op mense voorkom, bekend as wimpermyte, is Demodex folliculorum en Demodex brevis.  Hulle leef in die haarfollikels en sebumkliere van die vel en word meestal op die gesig aangetref — hoofsaaklik in die wenkbroue, wimpers, op die voorkop, die wange en om die neus.  Demodex folliculorum leef in die haarfollikes en is dus meer oppervlakkig as D. brevis wat in die dieperliggende sebumkliere voorkom.  Eersgenoemde leef van velafskeidings en epiteelselle van die follikels, terwyl D. brevis van die olierige afskeiding van die sebumkliere leef.  Daar kom gewoonlik ‘n klompie D. folliculorum-individue in ‘n follikel voor, terwyl net een D. brevis per sebumklier aangetref word.

Die wyfies lê sowat 20 eiertjies in die follikels.  Die eiertjies broei oor drie tot vier dae uit, en die larfies bereik volwassenheid oor sewe dae.  Hulle is ligsku en kom gewoonlik snags uit die follikels en kruip oor die gesig op soek na ‘n maat om te paar, waarna hulle weer kop eerste in ‘n follikel inkruip.  Hulle leef sowat 28 dae lank.  Demodex het nie ‘n anus nie en kan dus nie afvalstowwe uitskei nie.  Die afvalstowwe hoop in die liggaam op en wanneer die myt doodgaan, word dit vrygestel soos wat die myt ontbind.

Vroeër is gereken dat Demodex op sowat 10 tot 20% van alle mense voorkom.  Verskillende versamelingsmetodes word in studies gebruik en omdat die myte plek-plek voorkom en nie eweredig oor die hele lyf versprei is nie, is die afwesigheid van Demodex in ‘n monster nie te sê dat hulle werklik op ‘n persoon afwesig is nie.  Die myte word maklik deur aanraking van persoon tot persoon oorgedra.  Babas word ook nie met die myte gebore nie, maar hulle word deur aanraking vanaf die ouer of versorger na kinders oorgedra.

In ‘n onlangse studie in Amerika is gepoog om vas te stel presies hoe wydverspreid die myte op mense voorkom.  Monsters is van ‘n aantal vrywilligers geneem deur die vel te skraap.  Die monsters is eers ondersoek om vas te stel of myte sigbaar is, waarna dieselfde monsters, ongeag of myte gesien is of nie, verder aan DNS-toetse onderwerp is.  In slegs 14% van die monsters is myte visueel waargeneem, terwyl Demodex-DNS in 100% van volwassenes en 70% van deelnemers onder die ouderdom van 18 jaar gevind is.  Dit is nie ‘n maklike taak om die hoeveelheid myte op elke individu te bepaal nie, maar ‘n konsentrasie van minder as vyf myte per cm2 word as ‘normaal’ beskou.  Mens kan maar net raai hoeveel myte op elke persoon teenwoordig is, maar wat ons wel weet, is dat hulle getalle baie hoër in ouer mense is.

Die rol wat hierdie myte in mense speel is egter nog nie duidelik nie.  Hulle is nie parasiete nie, want parasiete veroorsaak skade wat tot die dood van die gasheer kan lei.  Demodex lewe in ‘n kommensale verhouding met die mens.  Dit beteken die myte en die mense leef in vrede saam … solank die mytpopulasies nie handuit ruk nie.  Onder normale omstandighede is mens nie eens bewus van die myte nie en pla hulle jou nie.

Hoë konsentrasies Demodex word egter verbind met sekere veltoestande soos rosacea (rooiheid en swelling op die voorkop, wange en neus) en blefaritis (inflammasie van die ooglede).  In beide hierdie toestande kom meer as die ‘normale’ aantal myte voor, maar daar is nog nie sekerheid of die verhoogde konsentrasie Demodex die oorsaak van die probleem is nie en of daar meer myte is as gevolg van die toestand wat deur iets anders veroorsaak word.  In die geval van rosacea word die moontlikheid ondersoek dat ‘n bakterie wat in Demodex voorkom, eintlik die oorsaak is.  Demodiccidose is inflammasie wat deur ‘n oorgroei van die myte veroorsaak word.

Dit is nie moontlik om die myte geheel en al uit te wis nie – tensy jy jouself in ‘n glaskas afsonder.  Maak maar vrede met hulle teenwoordigheid.  Normale goeie higiëne en velsorg hou meestal jou Demodex in bedwang.

The ubiquitous mites – Louise Coetzee – Mites are minute eight-legged invertebrates, related to spiders.  They are ubiquitous and live in a wide variety of habitats, including the skin of mammals.  Demodex is found in the hair follicles and sebaceous glands of mammals, with two species occuring mainly on the faces of humans, namely D. folliculorum (living in hair follicles) and D. brevis (living in sebaceous glands).  These mites are more prevalent than previoulsy believed and are transferred from person to person through contact between individuals.  In a recent study Demodex DNA was found in all individuals over 18 years of age, and in 70% of individuals younger than 18 years.  Mite populations also increase in older people.  Normal populations of these mites are asymptomatic and usually go unnoticed.  Increased numbers of mites have been implicated in certain skin ailments, such as rosacea and blepharitis.  However, it is not clear whether they are the cause of the problems, or whether their numbers have increased as a result of these skin conditions.

Bronne

Desch, C. & Nutting, W. B.  1972Demodex folliculorum (Simon) and D. brevis Akbulatova of man: redescription and reevaluation.  Journal of Parasitology 58(1): 169–177.

Krantz, G.W. & Walter, D.E. (Eds).  2009.  A manual of Acarology (3rd Ed.). Lubbock, Texas, USA: Texas Tech University Press.

Lacey, N., Delaney, S., Kavanagh, K. & Powell, F.C.  2007.  Mite-related bacterial antigens stimulate inflammatory cells in rosacea.  British Journal of Dermatology 157: 474–481.

Russel, R., Otranto, D & Wall, R.  2013.  The Encyclopedia of Medical and Veterinary Entomology.  Wallingford, UK: CABI.

Thoemmes, M.S., Fergus, D.J., Urban, J., Trautwein, M. & Dunn, R.R.  2014.  Ubiquity and diversity of human-associated Demodex mites.  Plos One 9(8): 1–8.

Trautwein, M.  2014.  Three Things You Didn’t Know About the Arachnids That Live on Your Face.  https://news.ncsu.edu/2014/08/face-mites-2014/ (03.09.2015).

Demodex-heads

Demodex folliculorum in ‘n haarfollikel.  (Foto: PS Micrographs)

Comments are closed.