Die geskiedenis herhaal homself soms op bisarre maniere. Een van die ontstellende gebeure van die aanloop tot dieTweede Wêreldoorlog (1939–1945) was die sogenaamde Kristallnacht toe stormtroepe van die Nazi-party in die nag van 9 November 1938 Joodse besighede, huise en sinagoges in verskeie Duitse stede en dorpe se vensters stukkend gegooi en die inhoud geplunder het. Die volgende dag was strate besaai met glasskerwe – vandaar die naam Kristallnacht of ‘nag van gebreekte glas’. In hierdie geval was die Duitsers die agressors.
‘n Soortgelyke gebeurtenis het hom gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) op ‘n veel kleiner skaal in Bloemfontein afgespeel. Toe was die plaaslike Duitse gemeenskap nie die agressors nie, maar wel die slagoffers van ‘n geweldsuitbarsting. Hier is die verhaal van Bloemfontein se Kristallnacht.
Bloemfontein se vroegste blanke inwoners was geen homogene groep nie. Sedert die stad se ontstaan in 1846 het Engelse, Afrikaners/Nederlanders, Skotte, Iere, Jode en Duitsers hulself hier gevestig. In die moeilike pioniersomstandighede van destyds het etniese verskille egter vervaag in die aangesig van die talle uitdagings wat die inwoners die hoof moes bied. Ter wille van oorlewing moes almal saamstaan en in die proses het die inwoners, soos die bekende Sophie Leviseur later in haar memoirs vertel het, soos ‘n groot familie geword.
Alhoewel hulle ‘n relatief klein groepie was, het die plaaslike Duitse gemeenskap ‘n besonder positiewe bydrae tot Bloemfontein se vooruitgang gelewer. Bekende families van Duitse oorsprong was onder andere die Baumanns, Krauses, Kellners, Stollreithers, Fraundorfers, Haarburgers, Borckenhagens en Fichardts. Uit hulle geledere het talle leiersfigure na vore getree. Verder was sommige van Bloemfontein se bekendste besighede lank in Duitse besit. Dink maar aan die bekende Fichardt-winkel wat vir dekades ‘n bekende baken in Bloemfontein se middedorp was. Hierbenewens het Ivan Haarburger, wat in ‘n stadium burgemeester was, ‘n musiekwinkel gehad, en die Dalldorf-broers het ‘n bekende afdelingswinkel onder die naam Dalldorf Brothers bedryf.
Die aanvang van die twintigste eeu het egter ‘n nuwe en meer komplekse era ingelui, veral wat onderlinge groepsverhoudinge betref. Na die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) het Bloemfontein se demografie ingrypend verander toe groot getalle Engelse immigrante hul in Bloemfontein kom vestig het. Daarmee het die magsbalans in die guns van die Engelssprekendes geswaai en gevolglik het die invloed van die ander groepe begin afneem. Ten spyte van hierdie tendens, en laat ‘n mens dit maar sê – die Engelse meerderwaardigheidsindroom wat plek-plek kop uitgesteek het – het respek en meelewendheid steeds verhoudinge gekenmerk.
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het daar egter ‘n kentering gekom. Nadat Brittanje teen Duitsland oorlog verklaar het, het spanning tussen Engelssprekendes en Duitssprekendes oral uitgeslaan, ook in Bloemfontein. Die Botha-regering het met Brittanje gesimpatiseer en hierdie sentiment het plaaslike inwoners van Duitse afkoms in ‘n moeilike posisie geplaas. Hoewel hulle in sommige gevalle steeds Duitssprekend was, was die meeste Bloemfonteiners van Duitse afkoms patriotiese Suid-Afrikaners en in geheel toegewy aan Bloemfontein. Maar die gety het teen hulle gedraai en hulle moes hul staal teen die venyn van ‘n oormag hoofsaaklik Engelssprekende inwoners, van wie die meeste maar onlangse aankomelinge was.
Die smeulende anti-Duitse sentiment is op die spits gedryf toe die nuus Bloemfontein bereik dat die Britse passasierskip die RMS Lusitania op 7 Mei 1915 deur ‘n Duitse duikboot gesink is nadat ‘n torpedo dit getref het. Van die 1 959 passasiers, waarvan die meeste Britte was, het 1 198 verdrink. Onder die slagoffers was talle vroue, kinders en selfs babas. Duitsland is wêreldwyd veroordeel. Later sou dit blyk dat behalwe die menslike vrag, die skip ook 173 ton ammunisie vervoer het. In Johannesburg, wat toe reeds ‘n grotendeels Engelse stad was, was daar gewelddadige anti-Duitse betogings en plundering van Duitse winkels en geboue. Die Bloemfonteinse koerant The Friend het in sy hoofberig van 13 Mei gewaarsku dat “the wave of indignation and bitterness is spreading among the English-speaking people of this country…” Hoewel daar ‘n onrustigheid in Bloemfontein se strate geheers het, was daar aanvanklik geen ernstige voorvalle nie. Die woede het egter gesmeul en in die nag van 13 Mei het dit tot gewelddadige uitbarsting gekom.
Dit was ‘n Donderdag en vroegaand reeds het groepies jong mans en ‘n paar luidrugtige vroue in Maitlandstraat bymekaar gekom en begin om anti-Duitse slagspreuke en “Rule Brittannia!” te skree. Volgens ‘n ooggetuie was daar ‘n “unwonted liveliness” onder die aanwesiges merkbaar. Dit was duidelik dat die plaaslike Duitse winkels en geboue met ‘n Duitse verbintenis in hul visier was. Steeds was daar geen geweld nie totdat ‘n man ‘n klip na die bekende Fichardt-winkel geslinger het. Dit was die vonk in die kruitvat en blykbaar waarvoor die opgestoke jeugdiges gewag het. Hul geledere is weldra aangevul toe ‘n groot groep soldate van Tempe, van wie sommige tydelik in Bloemfontein gestasioneer was, hul opwagting in die middedorp gemaak het.
Gewapen met stokke en fluitjies het die soldate en hul meelopers tot aksie oorgegaan: die Fichardt-winkel is met mening getakel en gou was die gebou se groot glasvertoonvensters aan flarde. Die oproeriges se getalle het aangegroei en onder aanvoering van die fluitjieblasende soldate het die groep toe na die Dalldorf-broers se winkel beweeg en dit begin plunder. Hiervandaan is hulle terug na Fichardt waar die polisie hulle ingewag het. Teen die blinde woede en geweld van hierdie groot “uncontrollable mob” – soos The Friend hulle genoem het – kon die polisie hulle nie verweer nie en moes die wetstoepassers magteloos die verwoesting gade slaan. Arthur Fichardt, een van die bestuurders van die Fichardt-besigheid, het die skare tot bedaring probeer bring, maar tevergeefs. Hierna sou Haarburger se musiekwinkel, Hoehne se fietswinkel, Glietenberg se optometris-praktyk en ook die Duitse klub in Fonteinstraat aan die beurt kom.
Vanweë die Duitse klub se simboliese betekenis is die gebou met besondere geweld getakel. Kort na hul aankoms by die gebou was die skare, wat volgens ooggetuies tot meer as duisend aangegroei het, oorgehaal om die plek af te brand. Die stormramme onder hulle het die gebou binnegedring en twee brande gestig. Die leeskamer se boeke, asook die houtmeubels in die gebou, is gebruik om die vure te stook. Duitse vlae is ook aan die brand gesteek. Volgens ‘n omstander is die brandende vlae tot vermaak van die skare aan stokke rondgeswaai. Aangevuur deur hulle ‘sukses’ by die klub, het die opgewonde skare in groepe verdeel: een groep is terug na die Dalldorf-winkel en ‘n ander groep het na die Bloemfontein Hotel opgeruk. Die gegriefdes het dit teen die hotel se Duitse eienaar gehad. Met hulle aankoms daar is die kroeg se deure oopgeruk, waarna die drankbottels gebreek en die inhoud in die straat uitgegooi is. By die Dalldorf-winkel is verdere skade aangerig en ook brande gestig. Die plaaslike brandweer kon ten spyte van hul manmoedige pogings egter nie veel uitrig nie, aangesien die oproeriges hulle brandslange stukkend gesny het.
Die skare het hulle aanvalle teen die eiendom van “Germans or supposed Germans” onbeskaamd voortgesit. Tot in die laatnag is die prominentste Duitse besighede herhaaldelik met klippe en ander voorwerpe bestook. Daar was in ‘n stadium dreigemente dat die Duitse inwoners se huise ook aangeval sou word. Die polisie het hul hande vol gehad om die verskeie groepe oproeriges te beheer en eiendom te beskerm. Ten einde laaste het die brandweer onder aanvoering van brandweermeester W. Lacey Savage begin om die oproeriges met water te spuit. Eers toé is hulle veggees geblus. Rondom middernag het die druipnat skare afgesit na die markplein waar hulle die nag se gebeure met die sing van God save the King afgesluit het.
Die volgende oggend is verdwaasde Bloemfonteiners begroet met strate wat besaai was met glasskerwe en uitgebrande puin – die oorblyfsels van Bloemfontein se Kristallnacht. Alhoewel die belhamels meestal soldate was, het Bloemfonteiners ‘n kant van sommige mede-inwoners beleef wat tot nog toe aan hulle onbekend was.
Die Donderdagnag se gebeure, wat The Friend “an orgy of lawlessness” genoem het, het nie net die Duitse gemeenskap nie, maar die meeste inwoners verslae, verleë en ontredderd gelaat. Bloemfontein is raak beskryf as “a shame-faced city”. Tydens ‘n protesvergadering wat die Vrydagaand in ‘n stampvol Grand-teater gehou is, het Bloemfontein se leiers die vorige nag se gebeure ten sterkste veroordeel. Maar helaas, die skade was gedoen. Dit was duidelik dat die ‘groot familie’ van voorheen nie meer so geheg was nie en dieselfde politieke spanninge wat elders in die land merkbaar was, sou algaande ook in Bloemfontein uitslaan.
Bloemfontein’s Kristallnacht: 13 May 1915 – Derek du Bruyn – One of the disturbing events that happened on the eve of the Second World War (1939-1945) was the so-called Kristallnacht when storm troops of the Nazi Party attacked and plundered Jewish businesses, houses and synagogues in various German towns and cities during the night of 9 November 1938. The next day streets were littered with glass shards – hence the name Kristallnacht or ‘night of broken glass’. At the time of the First World War (1914-1918) a similar event took place in Bloemfontein during the night of 13 May 1915, although on a much smaller scale. Then the local German community fell victim to an orgy of violence when pro-British residents and soldiers attacked German businesses in retribution of the sinking of the British passenger ship, the RMS Lusitania, by a German submarine. This is the story of Bloemfontein’s Kristallnacht and its aftermath.
Bronne
Anon. 1996. The World Book Encyclopedia (vol. 21). Londen: World Book International.
Alhadeff, V. 1979. South Africa in two World Wars: a newspaper history. Kaapstad: Don Nelson.
Leviseur, S. 1982. Sophie Leviseur memories (edited by K. Schoeman). Vrijstatia 1. Kaapstad: Human & Rousseau.
Liddell Hart, B.H. 1970. History of the First World War. Londen: Cassell.
Schoeman, K. 1980. Bloemfontein: die ontstaan van ‘n stad, 1846-1946. Kaapstad: Human & Rousseau.
The Friend, 10.5.1915, 11.5.1915, 13.5.1915, 14.5.1915, 15.5.1915, 17.5.1915 & 18.5.1915.
Volksblad, 16.3.2015.
www.eyewitnesstohistory.com/snpwwi2.htm (28.7.2015).
www.history1900s.about.com/cs/worldwari/p/lusitania.htm (28.7.2015).
www.jewishvirtuallibrary.org/jsource/Holocaust/kristallnacht.html (28.7.2015).
www.ushmm.org/wlc/en/article.php (28.7.2015).

Nuuskieriges drom voor die Dalldorf-winkel saam om die skade wat in die nag van 13 Mei 1915 aan die winkel aangerig is, gade te slaan. (Foto: Nasionale Museum)

Werkers besig om voor die beskadigde Fichardt-winkel op te ruim. Feitlik al die glasvertoonvensters van hierdie bekende familie-onderneming is tydens die onluste gebreek. (Foto: Nasionale Museum)

Die skade wat aan Ivan Haarburger se musiekwinkel aangerig is, is duidelik sigbaar. (Foto: Nasionale Museum)

Die oggend van 14 Mei 1915 het sommige brande wat gedurende die vorige nag se onluste gestig is, nog gesmeul. Hierdie foto is voor die Dalldorf-winkel geneem. (Foto: Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek)

Comments are closed.