Submit an article to Indago - a peer reviewed journal
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal

Die invloed van die Eerste Wêreldoorlog op damesmodes

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het niemand verwag dat die oorlog so lank sou duur óf dat dit so ‘n groot invloed op die mode sou gehad het nie. Dit was een van die bloedigste oorloë tot nog toe en die eerste oorlog waarby lande van regoor die wêreld betrokke was. Teen die einde van die oorlog het meer as 17 miljoen mense hulle lewe verloor.

Suid-Afrika as deel van die Britse Ryk het met die toetrede van Brittanje tot die oorlog in Augustus 1914 vanselfsprekend ook by die stryd betrokke geraak. En hoewel ver verwyder van die loopgrawe in Europa het die oorlog tog ook ‘n invloed op die alledaagse leefwyse van Suid-Afrikaners gehad. Gedurende die oorlog het meer as 146 000 blanke troepe, 2 000 kleurling en 83 000 swart soldate in Suid-Afrikaanse regimente gedien. Boonop is noodlenigingsfondse en vrywilligerskorpse oraloor in Suid-Afrika in die lewe geroep om die vegtende soldate te ondersteun en die koerante het gereeld nuus van die front gebring.

In Europa en ook Suid-Afrika was vroue met die uitbreek van die oorlog genoodsaak om die mans wat na die front opgeroep is se plek in die werkplek vol te staan, veral as vragmotorbestuurders en ook as plaas- en fabriekswerkers. Hierdie tipe werk het vereis dat dameskleredrag gemaklik en prakties moes wees. Rompe is weer wyer gemaak, en korter om beweging te vergemaklik. Ook baadjies het meer lospassend geword, gestroop van enige versiering behalwe vir twee groot sakke aan weerskante van die sye. En hoewel dit seker groot waagmoed moes geverg het, is vrouewerkers vir die eerste keer toegelaat om in langbroeke en oorpakke te verskyn!

Die voortslepende oorlog het ook ʼn groeiende getal vroue in uniform geplaas, meesal bestaande uit ʼn romp met ʼn lang, lospassende baadjie en bloes. Die kleur daarvan het gewissel tussen skakerings van bruin sodat daar ‘n amperse eenvormigheid in damesdrag ontstaan het. Persoonlike smaak en voorkeur was nie langer van belang nie. Meer nog het die dra van ‘n uniform  ook die sigbare skeidslyne tussen sosiale klasse uitgevee; vroue was tog nou immers almal dieselfde geklee. Veral jong meisies uit ryk en welgestelde families het met die uitbreek van die oorlog hulself gedwonge gevoel om te help met die versorging van gewonde soldate en hulle het as vrywilligers by die Rooikruis en ander soortgelyke organisasies aangesluit.

Funksionaliteit was ook hier van groter belang as voorkoms. Baie van die jong verpleegsters het later in herinnering geroep hoe die ligblou uniform en meegaande voorskoot die figuur byna heeltemal vormloos gelaat het. In die verlede was elke kledingstuk volgens maat gemaak, maar nou is uniforms, ook militêre uniforms, massavervaardig. Dit het verder bygedra tot die afwesigheid van die natuurlike kurwes in die amperse seunsagtige voorkoms wat die vroulike figuur nou het.

Ook buite die werkplek het dameskleredrag die jongste neigings van eenvoud en funksionaliteit nagevolg. Die mees opvallendste was seker die romp wat steeds wyer na onder uitgeklok het, onderwyl die soomlyn geleidelik gedurende die oorlogsjare gestyg het; vanaf die enkels in 1914 tot kuitlengte teen die einde van die oorlog. En siende dat die romp soveel korter gemaak is, is baie hoë stewels, byna tot by die knieë vasgeryg of geknoop, daarby gedra, of anders kamaste. Die uitrusting is afgerond met ‘n baadjie of jas en ‘n hoed wat skeef op die kop gedra is, soms so skeef dat een oog byna heeltemal verbloem is.

Mettertyd het die heersende oorlog ook ‘n sterk militêre teenwoordigheid in dameskleredrag meegebring. So was daar omgevoude krae met breë lapelle, skouerbelegsels, mouboordjies en groot sakke en knope. Breë lyfbande en gordels is om die middellyf vasgegespe of sommer net losserig geknoop. Vanselfsprekend het kleure vaal en somber geraak.

Ná die oorlog was vroue nie baie gretig om na hulle vroeëre leefwêreld terug te keer nie. Hulle het hul waarde in die werkplek bewys en was boonop vir die eerste keer waarlik bevry: sy kon sonder ‘n chaperone na restaurante, danse en die bioskoop gaan, maar meer nog kon sy ook alleen die motor daarheen bestuur. Ook in hulle kleredrag is vroue bevry, die ingeperktheid van die korset is vir altyd mee weggedoen, want in Amerika het ‘n sekere Mary Phelps Jacob pas die eerste “ruglose brassiére” uit twee sakdoeke en ‘n lint  geskep. Boonop het klere in die daaropvolgende jare nog korter en losser om die middel geword. En so ook die morele waardes – die “roaring twenties” het aangebreek.

trench-coat

Die trench coat

Hoewel min mense vandag steeds die “trench coat” met die loopgrawe (“trenches”) van die Eerste Wêreldoorlog verbind, was dit juis gedurende hierdie oorlog dat dié militêre jas op die voorgrond getree het. Dit is gemaak van ‘n sterk, waterwerende weefstof en was deeglik geskik vir die uiterste toestande in die loopgrawe.

Gedurende die oorlog het die “trench coat” alreeds hoog mode geword wat vandag steeds ‘n populêre modegier onder vroue, sowel as mans, is.

Bronne

Carter, E. 1977. The changing world of fashion: 1900 to the present. Londen: Weidenfeld & Nicolson.

Cunningham, C.W. 1948. English women’s clothing in the present century. Londen: Faber & Faber.

Lansdell, A. 1999. Everyday fashions of the 20th century. Buckinghamshire: Shire Publications.

Laver, J. 1969. A concise history of costume. Londen: Thames & Hudson.

“Op die hoogte: ons mode illustrasies” in Die Brandwag, 1916-1918.

Rolley, K. 1992. Fashion in photographs, 1900-1920. Londen: B.T. Batsford Ltd.

Rouse, E. 1989. Understanding fashion. Oxford: BSP Professional Books.

Schofield, A. 1974. Clothes in history. Londen: Wayland Publishers.

Seeling, C. 1999. Fashion: the century of the designer 1900-1999. Cologne: Könemann.

Storey, N.R. en Housego, M. 2013. Women in the First World War. Buckinghamshire: Shire Publications.

The Homestead, supplement to “The Farmer’s Weekly”, 1916.

Waugh, N. 1968.The cut of women’s clothes, 1600-1930. Londen: Faber & Faber.

Willmott, H.P. 2012.  World War I. Londen: Dorling Kindersley Ltd.

The influence of World War I on women’s fashions – Elmar du Plessis – Women’s fashions of the early 1920s were heavily influenced by World War I (1914-1918). During the war, as men went off to fight, women took on jobs formerly filled by men. Women’s clothing became looser at this time and the skirts shorter, allowing for greater movement and freeing women to work in new fields.  Many jobs also demanded the wearing of uniforms, including trousers – a first for women! With time a military look also crept into fashion design, with military-style tunic jackets, belts and epaulets.

Edwardiaanse-era

Die ideale vrou so eie aan die Edwardiaanse era (1900-1914) met boesem vorentoe gedruk en heupe na agter uitgestoot om gestalte te gee aan die S-vormige figuur.  (Foto: www.pinterest.com)

vroue-in-uniform

Die groeiende getal vroue in uniform het ‘n eenvormigheid in damesdrag meegebring.  Verder het die tekort aan materiaal en kleurstowwe gedurende die oorlog ook daartoe bygedra dat selfs buite die werkplek die skeidslyne tussen klasse nie meer so duidelik sigbaar was nie.  (Foto: www.dailymail.co.uk)

militere-uniform

Die militêre uniform het ‘n sterk invloed op damesdrag gehad, met omgevoude krae met breë lapelle (links) en lyfbande en gordels om die middellyf vasgegespe of net losserig geknoop (regs).  (Foto: Nasionale Museum)

stewels

Baie hoë stewels, byna tot by die knieë vasgeryg of geknoop, het gewild geraak.  Omdat so baie leer gebruik is vir die vervaardiging van militêre stewels, is dameskoene eerder van sagte materiaal gemaak.  (Foto: Nasionale Museum)

trourok

‘n Trourok in die versameling van die Nasionale Museum, omstreeks 1916, afgerond met ‘n matrooskragie, skouerbelegsels en omslaan-mouboordjies eie aan die tydperk.  ‘n Lyfband wat met twee knope aan die synate geheg is, versier die agterpant.  (Foto: Nasionale Museum)

Comments are closed.