COVID-19 Corona Virus
South African Resource Portal
COVID-19 Corona Virus
South African Resource Portal
COVID-19 Corona Virus
South African Resource Portal
 
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal

Toentertyd met die koms van die motorkar na Suid-Afrika het verkeersreëls en -regulasies vanselfsprekend met die toename in verkeer al hoe meer op die voorgrond getree om orde op dié terrein te handhaaf. Bygesê, selfs met die trapsuutjiespoed  van die destydse motors en spoedbeperkings van so laag as 15 m/h (24 km/h) het ongelukke sporadies plaasgevind weens onvoldoende verkeersreëls en die gebrek aan die nougesette toepassing daarvan.

Blykbaar is die eerste motorkar kort na die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) in Bloemfontein gewaar. Wie die eerste eienaar van ʼn kar in die stad was, is nie duidelik nie. In 1905 het ʼn outomobielklub hier opgespring, maar motors was toe nog so skaars soos hoendertande met motorfietse wat die in-ding was – selfs vroue het dit besit sonder dat koppe skeef gedraai het.

Maar weldra het motorverkoop- en motorherstelplekke hulle verskyning gemaak. Vermoedelik het prokureur-generaal S.J. de Jager in 1910 die eerste motor in die stad van ʼn plaaslike firma, Atkinson, aangeskaf. Teen 1913 het die getal voertuie in die stad so toegeneem dat die eerste registrasies moes plaasvind, en daar is gekla dat daar te min polisiemanne, wat toe nog verkeersdiens gedoen het, was om orde te handhaaf.

In Bloemfontein se middestad is die verkeer gewoonlik deur enkele konstabels hanteer wat by belangrike kruispunte “go-ry-stop”-tekens aan ʼn paal met die hand gedraai het, terwyl ʼn sambreeltjie as beskutting teen die weer gedien het. Verkeer in die stadstrate het egter mettertyd so toegeneem en die stad is so beklad met bewerings dat motorverkeer hier die ergste in die land is en “verder is daar in geen ander plek so veel padvarke soos in Bloemfontein nie”, dat die stadsraad verplig gevoel het om verkeersregulasies en -toepassing op te skerp. Die stad se eerste verkeersligte is in 1930 by die kruising van Maitland- en Hangerstraat opgerig. Stopstrate, tot groot ergernis van motoriste, het die lig gesien en aan die einde van die 1930’s sou ʼn spoedbeperking van 30 m/h (45 km/h) geld en die eerste verkeerskonstabels is aangestel.

Insiggewend genoeg, en onthou selfs vandag slaan sweet op motorbestuurders se voorkoppe uit as hulle dit moet doen, was daar in hierdie tyd groot teenkanting teen parallelparkering (“stert-in”-metode) in plaas van skuinsparkering (“neus-in”-metode).

Aan die begin van die 1930’s is die stadsraad al hoe meer in ʼn hoek gedruk om meer doeltreffende parkeerreëls in te stel omdat die bestaande reëls tot lukrake ordelose parkering gelei het wat ernstige verkeersprobleme veroorsaak het. Daar moes onder andere besluit word  of  die “stert-in”- of “neus-in”-metode in die stad moes geld nadat laasgenoemde aanvanklik algemeen in gebruik was. Slegs in sentrale strate soos Maitlandstraat waar parkering langer as 20 minute verbode was, kon parallelparkering uitgevoer word.

Die stadsraad was verdeeld oor die kwessie. Raadslid D.A. Thomson, ook voorsitter van die openbare werke komitee wat die saak moes ondersoek en aanbevelings doen, was ʼn voorstander van die “stert-in” en burgemeester E.M. de Beer aan die voorpunt van die ander siening. In die pers het voorstanders van elke metode mekaar ook gepak.

Inmiddels het die openbare werke komitee gereël dat ʼn demonstrasie om die twee metodes te toets by die Ramblersklub plaasvind. Teenwoordig was die polisie, die Outomobiel-assosiasie en die Royal-outomobielklub. En die uitkoms? Almal was ten gunste van die “stert-in”-metode.

Diegene ten gunste van parallelparkering was van oordeel dat dit veiliger is, want so kon die motor gemaklik uit sy parkeerruimte saam met die vloei van die verkeer beweeg. Skuinsparkering bring mee dat agteruit, met beperkte sig, in die aankomende verkeer gery moes word wat meebring dat dié motors moes uitswaai en so ʼn voertuig in die teenoorgestelde baan kon tref. Diegene wat opgesien het teen parallelparkering omdat dit te moeilik is, is daarop gewys dat enigeen wat ʼn bestuurderslisensie bekom het en veronderstel is om sy voertuig te bemeester, geen probleem behoort te hê om met ʼn bietjie selfvertroue met ʼn tru-aksie sy motor in die verlangde parkeerplek in te maneuver nie. “How,” is ietwat sarkasties gevra in ʼn steek na die pro-“neus-in”-groep se onbeholpenheid, “do they get their cars out of their garages, or drive them in, as the case might be?”

So eenvoudig is die kwessie nie, het die pro-skuinsparkering-brigade van hulle laat hoor. ʼn Bestuurder moes ʼn basiese kennis van motorbestuur hê om hom in verkeer te handhaaf, het hulle gesê, en hoef nie noodwendig ʼn  uiterste deskundige agter die stuurwiel te wees nie wat met gemak die parallel-metode kon uitvoer. Daar is op gehamer dat verreweg die meerderheid bestuurders die “neus-in”-metode verkies – sommige het dit geraam op ʼn driekwart van Bloemfontein se sowat 2 000 bestuurders – en dat dié metode tot dusvêr geen noemenswaardige verkeersprobleme veroorsaak of nadele gehad  het nie.

Op 29 Julie 1931 was daar ʼn ernstige debat in die stadsraad oor die kwessie. Die raad het met ʼn groot meerderheid besluit dat dit in die belang van die deursnee publiek is om die “neus-in”-metode aan te beveel.  Daar is weliswaar ingestem dat in besige strate soos Maitlandstraat en dié wat dit kruis ʼn sekere vorm van parallelparkering – agterwiel 60 sentimeter en voorwiel 1.2 meter van die sypaadjie met laasgenoemde uitgeswaai na buite – kon geld en waar ʼn metaalplaat op ʼn lamppaal aandui dat parkering slegs 20 minute is.

Nietemin sou rolspelers voortgaan om Bloemfontein se parkeringsopset as chaoties te beskryf  met verwarring wat steeds heers oor presies waar en hoe om te parkeer, terwyl gepleit is vir eenrigtingstrate, ware parallelparkering en die oprig van parkeergarages om verkeersvloei te vergemaklik – alles wat mettertyd gerealiseer het.

Terloops, op 5 Oktober 1934 het The Friend berig dat dit veral vrouemotorbestuurders is wat hulle aan verkeerde parkeringspraktyke skuldig maak. Wanneer beamptes hulle daaroor aanspreek, word dié vroue so aggressief dat die beamptes dit eerder laat om hulle pligte uit te voer …

Bloemfontein’s dilemma in early days regarding “tail-in” parking. In the early 1930s the dilemma regarding the best method of parking was one that constantly occupied the thoughts of the Town Council and the public works committee. The efficiency of the different methods of “nose-in” and “tail-in” parking was, once again, on the drawing board. The Town Council decided by a large majority to adhere to the method of “nose-in” parking because three quarters of Bloemfontein’s drivers preferred it. They therefore rejected the proposal of the public works committee providing for the “tail-in” parking.

Bronne 

Die Volksblad, 9, 10 en 13.10.1931; 27.2.1933.

Harrison, I. & Joyce, P. (samest.). 2005. Die boek van eerstes. Johannesburg: Jonathan Ball.

Johnston, J.H. 1975. Early motoring in South Africa. Kaapstad: Struik.

Schoeman, K. 1980. Bloemfontein  – Die ontstaan van ʼn stad 1846-1946.  Kaapstad: Human & Rousseau.

Schnetler, F. 1997. A century of cars. Kaapstad: Tafelberg.

The Friend, 11.11.1927; 12.3.1929; 13.3.1930; 6 en 10.6.1931; 20, 21, 29 en 30.7.1931, 8.10.1931; 23.11.1931; 30.8.1934; 5.10.1935; 28.7.1936; 17.8.1936.

De-Beer-E-M

E.M. de Beer (Foto: Nasionale Museum)

Thomson-D-A

D.A. Thomson (Foto: Nasionale Museum)

Motorparkering-spotprent-1936

ʼn Spotprent wat op 17 Augustus 1936 in The Friend verskyn het om veral die chaotiese parkeringstelsel in Bloemfontein uit te wys.

Maitlandstraat-ca-1930-parkering-5-VA06015

ʼn Besondere bedrywige Maitlandstraat in die 1930’s met parallel- en skuinsparkering aan die orde van die dag. (Foto: Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek)

Maitlandstraat

Maitlandstraat handhaaf parallelparkering in die 1930’s. (Foto: Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek)

Comments are closed.