Bart de Graaff en Marianna Botes
In April 1834 reis vyf Duitse sendelinge per ossewa vanuit Kaapstad duisend kilometer die Suid-Afrikaanse binneland in op soek na ‘heidene’ om tot die Christendom te bekeer. Hierdie sendelinge was verbonde aan die “Genootskap tot bevordering van die evangeliese sending onder die heidene”, wat later bekend gestaan het as die Berlynse Sendinggenootskap. Die reis was lank en moeilik, omdat hulle vordering met die ossewa stadig was en hulle ’n gevaarlike, wildryke gebied binnegetrek het. ’n Aantal van hulle osse het leeus ten prooi geval en hiënas was nooit ver weg nie. Maar uiteindelik het die sendelinge hulle bestemming bereik: ’n Paar hektaar grond aan die Rietrivier in die huidige Vrystaat wat hulle van kaptein Adam Kok II, opperhoof van die Griekwastam te Philippolis, gekry het.
Toe die sendelinge hulle kamp opslaan, was daar in die omgewing geen lewende siel in sig en dus ook geen ‘heidene’ nie. Rampspoed het gedreig toe dit die volgende oggend hard begin reën, sodat die Rietrivier sy oewers oorstroom en die Duitsers nouliks aan verdrinking ontkom het. Hulle gee hul sendingpos die Bybelse naam Bethanie, Hebreeus vir “Huis van die armes” of “Huis van ellende” – die ellende wat die sendelinge moes deurstaan om tot daar te kom.
Die stigters van Bethanie was nie bewus daarvan dat Adam Kok II geen seggenskap oor dié gebied gehad het nie, aangesien dit deel van die plaas Brandewynsfontein (Brandwijnsfontein) in die hartland van die Koranna uitgemaak het. Die Koranna vorm deel van die Khoi-Khoin, wat “Ware Mense” of “Mens-Mense” beteken. Dit was die grondgebied van die Regshande-stamgroep binne die Koranna, ’n paar honderd nomadiese veeboere onder leiding van die berugte kaptein Piet Witvoet. Hulle het hulself Regshande genoem – “die mense wat staan vir die reg”. Witvoet het talle roofaanvalle op naburige stamme geloods. Toe hy en sy mense na een van hulle swerftogte na Brandewynsfontein terugkeer en daar Duitse sendelinge met ’n ‘grondbrief’ van Adam Kok aantref, het hy kwaad geword. Volgens ’n ooggetuieverslag wat later opgeteken is, vra hy:
wat regt had oud Dam [Adam Kok] om julle Zendelings Mijn Grond weg te geven, deze Plaatz is niet Dam Kok Zijne, maar onz Koranners behoord deze Plaatz toe, wij Koranners is Zelfstandig Volk en stan niet onder de Grikwas. Gaan liver verder, of gaan naar oud Dam toe, hij Zal julle van zijn Grond geven.
Alhoewel kaptein Witvoet die sendelinge nie weggejaag het nie, het hy dit vir hulle onmoontlik gemaak om hulle werk te doen deur hulle te verbied om kerkdienste te hou of ’n skooltjie te begin. En na ’n jaar se gedwonge niksdoen, ontstaan daar ’n ernstige rusie tussen twee van die vyf sendelinge. Gevolglik word hierdie twee sendelinge deur die direksie van die Berlynse Sendinggenootskap teruggeroep. ’n Jaar later is die ander drie sendelinge weens pligsversuim ontslaan.
Met verloop van tyd het kaptein Witvoet ’n meer gematigde houding teenoor die sendelinge ingeneem en in 1837 is sendeling Carl Wuras deur die Berlynse Sendinggenootskap na die Koranna op Brandewynsfontein gestuur. Hy het ’n stuk grond gevra om ’n kerk te bou – en dit gekry. Piet Witvoet is in 1842 deur Goliat(h) Yzerbek opgevolg. Waar die nuwe kaptein sy van gekry het, is nie bekend nie. Waarskynlik was dit te danke aan sy strydvaardige karakter, of andersins aan sy bekwaamheid as skutter of jagter, want ’n geweer is in hierdie tyd ook ’n ‘Yzerbek’ (Ysterbek) genoem.
Intussen het Wuras nie net sendingwerk gedoen nie, maar het ook begin om handel te dryf en die Koranna teen die blanke Afrikaner-veeboere, met wie die Regshande Koranna voorheen grootliks in harmonie (“in de goed maatschappij”) saamgeleef het, op te steek. Yzerbek se onderkaptein, Stephanus Buffelbout, het verklaar:
In de tijd, was wij; en de Boere, in de goed maatschappij, toen heeft Den Heer Wuras onz Zoo danige verhalt van de listigheid van de Boere, dat die Zal onz bedriegen, en onz Grond Zoo maar vat, en dat wij geen gemeenschap met de Boere moet houden, maar lever hulle uit onz Grond verjagen, wij had toen Zijn Raad aan genoemen, ook had hij ons belet om iets bij de Boere gaan te Koopen of Ruilen, zegt Koop en Ruil lewer bij mij, ik ben uwe leeraar, wij had zijn Raad aan genemen, en alles wat onz wil koop, bij hem gekoopen.
Wuras het Yzerbek oorreed om sy grond te verlaat en noorde toe te trek, op soek na meer weigrond vir sy volgelinge. Die sendeling het saam met Yzerbek na hulle nuwe gebied gereis, maar ’n jaar later weer teruggekeer na Bethanie, onder voorwendsel dat hy die kaptein se grond by Bethanie gaan oppas. Omdat Yzerbek Wuras geglo het en en ook gerus was dat sy onderkaptein, Buffelbout, ’n ogie oor die sendeling se doen en late by Bethanie kon hou, het hy ingestem dat Wuras kon teruggaan.
Die sendeling het Yzerbek egter baie gou in die rug gesteek. Na die terugkoms van Wuras op Bethanie, beweer Buffelbout:
dat hij [Wuras] een stuk Grond heeft aan Den Heer jan Kloete verkocht, ik heeft hem toen gevragen, waar om dat hij onz Grond verkoop? daar hij onz gedurige zegt wij moet niet onz Grond aan de Boere verkoopt. Toen wordt den Heer Wuras kwad op mij, en zegt het is niet julle Koranners Grond, ik had de Grond van Kaptijn Kok gekregen, toen zegt ik neen, het is niet Grikwa Grond, geve mij de geld af, het komt onz Koranners toe.
Wuras het geweier om die geld terug te betaal en toe Buffelbout aanhou protesteer, het die sendeling hom deur ’n groep ruiters onder leiding van Adam Opperman van Bethanie laat verjaag. Opperman was ’n voormalige slaaf afkomstig van die Kaapkolonie wat deur Wuras tot ‘Hoofman’ benoem is. Volgens Buffelbout het Opperman Wuras se opdrag teensinnig uitgevoer, omdat hy geweet het dat die grond aan die Koranna behoort het.
Aangesien kaptein Yzerbek besig was met ’n verbete maar tevergeefse stryd om ’n stuk grond na die noorde, aan die Vaalrivier, in die hande te probeer kry, het etlike jare verloop voordat hy hom persoonlik met dié saak bemoei het. Na ’n afwesigheid van meer as 10 jaar het Yzerbek uiteindelik na Bethanie teruggekeer, waar hy homself weer as kaptein wou vestig. Maar net soos Buffelbout word hy ook in opdrag van Wuras deur Opperman weggejaag. In ’n poging om sy grond van die sendelinge terug te kry het Yzerbek ’n brief aan die Volksraad van die republiek Oranje-Vrystaat geskryf. Hier volg ’n kort uittreksel:
Mj, de wittige Eigenaar van het Grond, protesteerd tegen zoo een onregtvaardige vervreemding. Ik, Kaptyn Goliath Yzerbek, Kaptyn van de Koranna Natie, verklaard dat de Plaatz Brandwynfontein, Koranners School Plaatz, thans Bethany genoemd, myn en myn Volks wittige eigendoms is, deze Bethany behoord aan onz Koranners Volk en aan geen andere.
Omdat Yzerbek so lank nie op Bethanie was nie, het die Volksraad besluit dat hy sy eiendomsregte verloor het en die grond by Bethanie nou wettig in besit van die Berlynse Sendinggenootskap was. Weens die verlies van sy tradisionele stamgrond het Yzerbek ook sy volgelinge verloor, aangesien ’n Koranna-kaptein sonder grond sy stamlede geen weiveld vir hulle vee kon aanbied nie. Gevolglik sou die Korannas nie hulle nomadiese leefstyl kon voortsit nie. Uiteindelik het net sy naaste familie aan Yzerbek getrou gebly. In 1872 het Wuras Goliat Yzerbek goedgunstiglik toegelaat om hom en sy blinde vrou op Bethanie te vestig, omdat hulle brandarm en halfdood van die honger was. Op hierdie plek, wat voorheen aan hulle behoort het, maar nou in die besit van iemand anders was, slyt dié twee hulle laaste jare en leef van aalmoese.
Na Goliat se dood het sy seuns, Solomon en Jonas Yzerbek, nog jare lank ’n tevergeefse regstryd om die eiendomsreg van Bethanie teen die Berlynse Sendinggenootskap gevoer, maar in 1925 moes die laaste Yzerbek Bethanie noodgedwonge verlaat. Die nasate van die Regshande Koranna het onlangs ’n grondeis ingedien om 18 000 hektaar van die vroeëre Brandewynsfontein/Bethanie terug te kry.
Op 24 November is ’n internasionale, tydelike uitstalling, met die titel Vêrlander, oor Khoi-Khoin groepe in die Nasionale Museum deur die Nederlandse ambassadeur in Suid-Afrika geopen. Hierdie uitstalling was die resultaat van samewerking tussen die Nasionale Museum en twee Nederlanders, die historikus en skrywer dr. Bart de Graaff en die dokumentêre fotograaf, Geert Snoeijer.
I, Goliath Yzerbek. In 1834 five German missionaries of the Berlin Missionary Society travelled into the wild interior of South Africa to do missionary work among the indigenous people. They were granted a piece of land for a mission station near the Riet River in the current Free State Province from Adam Kok II, Paramount Chief of the Griquas in Philippolis. After a difficult journey and harrowing experiences the missionaries named their new mission station Bethany – Hebrew for “House of the poor” or “House of misery”. They did not know that this piece of land actually belonged to Chief Piet Witvoet and his nomadic Koranna Clan, the Regshande, as part of the farm Brandewynsfontein.
In 1837 missionary Carl Wuras was sent to Witvoet and his Koranna at Bethany. Wuras later on received a piece of ground from Witvoet to build a church and in 1842 Witvoet was succeeded by Goliat(h) Yzerbek. Wuras convinced the new Chief to trek northwards to look for new pastures for his followers’ cattle. When Yzerbek and his Koranna returned to Bethany more than 10 years later, missionary Wuras had Yzerbek chased away. Yzerbek wrote a letter to the Volksraad (Legislature) of the republic of the Orange Free State to apply for the re-instatement of his property rights at Bethany/Brandewynsfontein, but was unsuccessful. Without land and pasture for their cattle, Goliath Yzerbek lost his wealth and followers and he and his wife lived on Bethany as destitute people for the rest of their lives.
Bronne
Buffel, O. 2015. ‘A journey of the people of Bethany marked by dispossession, struggle for return of land and continued impoverishment: a case study of land reform that has not yet reduced poverty’. UNISA, Studiae Ecclesiasticae 41(2): 131-144.
Engelbrecht, J.A. 1937. Die Wordings- en Verwordings Geskiedenis van die Koranna. Publikasies van die Universiteit van Pretoria. Reeks 4: Intreeredes, no. 8.
Erasmus, P. 2012. ‘Wuras’s complicity in the ‘construction’ of the colonial Korana through his knowledge of the !Ora’, in: Southern African Humanities, Vol. 24: 61-77.
Erasmus, P. 2013. The Battle at Mamusa. The Western Transvaal border culture and the ethno-dissolution of the last functioning Korana polity. Bloemfontein, Sun Press.
Lau, B. (red.). 1985. Carl Hugo Hahn Tagebücher 1837-1860, Part III: 1852-1855. A Missionary in Nama- and Damaraland. Archives Service Division of the Department of National Education, SWA / Namibia, Windhoek.
Schultze, A. 2005. “In Gottes Namen Hütten bauen.” Kirchlicher Landbesitz in Südafrika: die Berliner Mission und die Evangelisch-Lutherische Kirche Südafrikas zwischen 1834 und 2005. Franz Steiner Verlag, Stuttgart.
Van der Heyden, U. 1991. Unbekannte Geschichtsquellen in Berlibn. Das Archiv und die Bibliothek der Berliner Missionsgesellschaft. Berlin, FU Sozialanthropologische Arbeitspapiere Nr. 45.
Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek, VR 172: Verklarings van Goliath Yzerbek, Stephanus Buffelbaut (sic) en Richard Miles.

Pauline Yzerbeck van Edenburg is die enigste afstammeling van ‘oupa Goliath’ wat nog steeds die oorspronklike familienaam dra. Ander nasate se van is na Beck verkort. (Foto: Geert Snoeijer)

Fragment van die brief wat Goliath Yzerbek in 1862 aan die Volksraad van die Oranje-Vrystaat gestuur het. Die taalgebruik is tipies vir die tyd waarin die Korannas !Ora gepraat en Afrikaans-Hollands geskryf het. (Foto: Geert Snoeijer)

Harold Solomon Beck, kleinseun van Ezechiël Yzerbeck en die huidige voorsitter van die Vrystaatse Koranna Kulturele Gemeenskapsraad. (Foto: Geert Snoeijer)

Comments are closed.