Gedoem tot vernietiging?
Bloemfontein, wat in 1846 gestig is, was die hoofstad van die republiek Oranje-Vrystaat (1854-1900) en in die 1850’s is ’n eenvoudige klein tronkgebou in St. Georgestraat opgerig. Hoewel hierdie tronk mettertyd vergroot en verbeter is, was dit ’n ondoeltreffende gevangenis, want misdadigers het maklik hieruit ontsnap. Ofskoon die tronk tralies voor die vensters gehad het, was die dak klaarblyklik nie so stewig nie en kon effe gelig word sodat daar ’n opening ontstaan waardeur gevangenes kon ontsnap. Gevolglik moes gevaarlike misdadigers en ernstige oortreders in kettings geslaan word om te verhoed dat hulle ontsnap.
Toestande in hierdie ou tronkgebou was swak, want sewe tot agt prisoniers is in uiters klein selle aangehou en sanitêre toestande was haglik weens ’n gebrek aan toiletgeriewe. In die winter was dié tronkgebou, wat met klip uitgevoer is, ysig koud en in die somer was dit onhoudbaar warm. Veral saans is gevangenes lastig geval deur ongediertes soos muise en rotte, luise, vlooie, muskiete, spinnekoppe en selfs slange. Die destydse distriksgeneesheer, dr. C.J.G. Krause, het in 1878 in ’n verslag melding gemaak van die “ellendige toestand” van die tronk en dit “een schreeuwend onrecht” genoem. In die vroegste dae, voordat alle gevangenes saans geboei is, het geringe oortreders saans uit die tronk ‘ontsnap’ en dan teen dagbreek weer teruggekeer!
Die koms van die spoorlyn en treine na Bloemfontein in 1890 het ook ongewenste persone na Bloemfontein gebring en misdaad het begin toeneem. Omdat die “unsightly old Town Prison” in St. Georgestraat te klein geword en misdadigers so maklik daaruit ontsnap het, is daar in 1891 besluit om ’n nuwe, groter gevangenis vir Bloemfontein te bou. Regeringsargitek D.E. Wentink het ’n plan en kosteberaming vir ’n nuwe tronkgebou opgestel.
Op aanbeveling van die stadsraad is besluit om die nuwe tronkgebou buite die destydse dorp op te rig op ’n stuk grond wat deur hulle beskikbaar gestel is. Teen Mei 1893 is met bouwerk aan die nuwe gevangenis op ’n terrein net oos van die spoorlyn, naby Waaihoek, begin. Teen Desember 1893 is bouwerk voltooi en in Februarie 1894 is die nuwe Bloemfontein-gevangenis (later onder veral swart mense as die Ramkraal-tronk bekend) in gebruik geneem.
Baie min is nog oor hierdie tronkgebou in die huidige Dr. Belcherweg in Batho geskryf, maar kyk ’n mens na die grondplanne, ou foto’s en die gebou self, blyk dit dat die stewige hoofgebou van sandsteen en rooi stene gebou is, met ’n hele aantal torinkies of lugventilators op die sinkdak.
Dit was aanvanklik ’n T-vormige gebou met drie langwerpige vleuels wat aan drie kante waaiervormig van die sentrale, seshoekige uitkyktoring met sy eie seskantige sinkdak uitgebou is. Die langwerpige vleuels het die selle bevat en volgens ’n latere verslag was daar 24 selle wat volgens die OVS-tronkregulasies 72 gevangenes kon akkommodeer. In 1893 is ’n huis vir die sipier naby die tronk opgerig en mettertyd is ook akkommodasie voorsien vir ander bewaarders. Die wasgeriewe of “Bathing Tank” en toilette was in afsonderlike geboutjies op die terrein geleë. Die terrein binne die ringmuur was groot en gevangenes kon buite vars lug inasem en oefening kry. Daar was ook ’n waterput met ’n pomp op die terrein.
Strawwe vir groot misdade was meestal swaar, dikwels lyfstraf en dwangarbeid. Moord is met die dood gestraf en teregstellings aan die galg het vroeër in die openbaar plaasgevind, eers aan die agterkant van Fortheuwel en daarna by Hangmanskloof teen die hang van Naval Hill. Met die voltooiing van die nuwe tronkgebou in 1893 is die galg ook op die gevangenisterrein naby die oorspronklike toilette aangebring.
Net na sy voltooiing in 1893 was die nuwe tronkgebou nog heeltemal buite die destydse hoofstad en was dit waarskynlik ’n indrukwekkende gesig in die veld. Later is die gebou weggesteek deur ’n hoë ringmuur met twee groot kasteelagtige wagtorings wat in Oktober 1895 voltooi is. The Bloemfontein Post van 26 Maart 1902 het die gevangenis só beskryf: “On approaching the building gives one the impression of an ancient stronghold of [a] feudal baron of a past age, as [a] high stone wall forms the outer enclosure with two massive turrets as watch towers.”
Die gevangenis is tydens en na die Anglo-Boereoorlog ’n hele paar keer vergroot en het as die sentrale staatsgevangenis diens gedoen totdat die Grootvlei-gevangenis in 1994 geopen is, waarna dit gesluit is. Tussen 1894 en 1994 is bekendes, soos onder meer Mahatma Gandhi (in 1913) en genl. C.R. de Wet (tydens die 1914-1915 Rebellie), asook ’n hele aantal struggle-aktiviste, soos Charlotte Maxeke en Caleb Motshabi, in dié gevangenis aangehou.
Na die sluiting het die gevangenis begin verval. Hoewel ’n kuns- en kunsvlytsentrum in die Ramkraal-tronk begin is, het dit later doodgeloop en is die gebou deur ’n aantal haweloses betrek. Met die beplanning om ’n nuwe gebou vir die Vrystaatse wetgewer naas dié ou tronkgebou op dieselfde terrein te bou, was daar sprake dat die ou gevangenis gerestoureer en as museum ingerig sou word. Maar sedert Maart 2012 word die historiese tronkgebou deur stropers vir boumateriaal geplunder en erg beskadig; dus is die gebou se toekoms tans onseker..Die swaar houtdeure van die tronk is verwyder, deure en vensters is uitgebreek en dakplate is weggedra. Vanweë die omvang van die skade wat reeds aangerig is, is die historiese Ramkraal-tronk waarskynlik gedoem tot totale vernietiging, tensy drastiese stappe gedoen word terwyl die proses nog omkeerbaar is.
Dit sal ’n skreiende skande wees indien hierdie betekenisvolle stuk kultuurerfenis, wat vir alle kultuurgroepe in Bloemfontein van belang is, as gevolg van nalatigheid verlore gaan!
Historic Ramkraal Prison: Demolition by neglect? – Marianna Botes. By the time the railway reached Bloemfontein in 1890, the “unsightly old Town Prison” in St George Street, built in the 1850s, had become too small and inefficient. In December 1893 a new prison, designed by state architect D.E. Wentink and built of sandstone and red bricks, was completed east of the railway, close to Waaihoek in the current Dr Belcher Street in Batho. It was originally a T-shaped building with three wings. The house of the prison warden, bath and toilet facilities were accommodated in separate buildings on the site. In 1895 an enclosing wall, with two intimidating, castle-like watchtowers, was erected around the prison. Serious crimes were punished with corporal punishment and hard labour. Murderers received the death penalty and when the new prison was completed, the gallows were moved there. During and after the Anglo-Boer War Ramkraal Prison, as it became known, was enlarged several times, and served as the central state prison until Grootvlei Prison was opened in 1994 when Ramkraal was closed. Between 1894 and 1994 several well-known people, such as Mahatma Gandhi (1913), General C.R. de Wet (during the 1914–1915 Rebellion) and struggle icons Charlotte Maxeke and Caleb Motshabi were incarcerated in Ramkraal.
After its closing the Ramkraal Prison started to deteriorate, and although an arts and crafts centre was initially housed there, the building was later occupied by homeless people. With the planning of the new building of the Free State Legislature on the same site next to the prison, the old prison was earmarked to be converted into a museum. However, since March 2012, this historical prison building has been ransacked and damaged by looters seeking building material. Unless drastic steps are taken while the process is still reversible, this historic building is doomed. It will be a crying shame if this significant part of Bloemfontein’s cultural heritage, which is important to all cultural groups, is lost due to negligence.
It is not clear why the jail is known as Ramkraal Prison. The name may have a connotation with the fact that there were sheep or livestock kraals in the vicinity in the past. If anybody has more information about the origin of the name Ramkraal, please contact Marianna Botes at 051-4479609 or mbotes@nasmus.co.za.
Bronne
Botes, M. 2010. “Een schreeuwend onrecht” – Bloemfontein se gevangeniswese tydens die republikeinse tydperk, 1854-1900. In: Le Roux, S.W. & Fisher, R.C. (reds.), Festschrift ter ere van O.J.O. Ferreira. Gordonsbaai: Adamastor.
Damons, A. Inwoners hulpeloos toe stropers toeslaan, Volksblad, 8.3.2012.
Early prisons in OFS, The Friend, 18.12.1933.
Gericke, M. Gandhi in Ramkraal-tronk aangehou, Ons Stad, 19.4.2012.
Gericke, M. ‘Museum’ geplunder: De Wet, Mandela dalk in dié historiese tronk aangehou, Volksblad, 4.4.2012.
Schoeman, K. 1982. Vrystaatse erfenis: bouwerk en geboue in die negentiende eeu. Kaapstad: Human & Rousseau.
The Bloemfontein Post, 26.3.1902.
The Friend, 5.5.1891, 8.5.1891, 22.1.1892, 9.2.1892, 3.5.1892, 24.6.1892, 28.11.1893.
Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek, Bloemfontein. Kaart 1/282: Central Prison, Bloemfontein. Portion of site plan, Nov. 1904; Kaart 2/254: Proposed extension. Central Prison, Bloemfontein, 1901.

Die nuwe Bloemfontein-gevangenis omstreeks 1894 voordat die ringmuur en wagtorings aangebou is. Regs is waarskynlik die sipier se woning. (Foto: Nasionale Museum)

Die Bloemfontein-gevangenis nadat die ringmuur en twee kasteelagtige wagtorings aangebou is, omstreeks 1896. (Foto: Nasionale Museum)

Die verwaarloosde vooraansig van die Ramkraal-gevangenis in Julie 2013, met dakplate wat verwyder is. (Foto: Nasionale Museum)

Die suidekant van die oorsponklike sandsteen-gedeelte van die Ramkraal-tronk in Maart 2014 met waterskade en verwyderde dakplate duidelik sigbaar. (Foto: Liza Fourie)

Die binnekant van die Ramkraal-tronk in Maart 2014. Deure en vensters is uitgebreek en dakplate en plafonne verwyder. (Foto: Liza Fourie)

Skade aan die mure en deuropeninge van die historiese Ramkraal-tronk, Julie 2013. (Foto: Nasionale Museum)

Comments are closed.