Eerste Bloemfonteinse vrouestadsraadslid
In 1932 het Marie Magdalena Elizabeth Visser, ‘n huisvrou, die eerste vrou in die stad se geskiedenis geword wat as stadsraadslid in dié manlike domein verkies is.
Gewoonlik word adv. Gladys Steyn, ‘n dogter van M.T. Steyn (laaste staatspresident van die republiek Oranje-Vrystaat) voor oë geroep in sodanige baanbrekersverband. Sy was die eerste vrou wat in die Vrystaat tot die Balie toegelaat is en in 1933 ook die eerste vrou wat in die provinsie se Provinsiale Raad gedien het.
Daardie jare was die vrou se plek in baie opsigte nog spreekwoordelik gereken as tuis voor die stoof en met ‘n kind op die skoot.
As kanniedood sou Marie Visser sedert 1929 voortbeur totdat sy geseëvier het. Voorheen was sy al ‘n driftige openbare pleitbesorger vir groter deelname van die vrou in munisipale sake.
Wie was dié Marie Visser? Sy was die dogter van W.H. van Niekerk wat lid van die ou Transvaalse Volksraad was. Haar nering was in die onderwys, veral kindertuin, en sy het opleiding te Stellenbosch ontvang en in Arnhem, Nederland, verder gaan studeer. Sy het haar wêreldkennis verbreed deur Duitsland, Engeland, Switzerland, Noorweë en Swede te besoek. Hierna is sy betrokke by die Modelskool in Bloemfontein en ook prominent in onder andere die National Council of Women (plaaslik en nasionaal) en die Oranje-Vrouevereniging. In 1918 is sy met dr. C.F. Visser, rektor van die Normaalkollege en bekende Afrikaner-kultuurleier, getroud.
Maar Marie was nie die eerste vrou wat haar as stadsraadslid verkiesbaar gestel het nie. Die eer kom blykbaar mevroue A.C. Swart (moeder van advokaat Blackie Swart, die eerste seremoniële staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika) en M.B.K. Muir toe.
Die aanvanklike munisipale ordonnansie het bepaal dat daar geen geslagsonderskeiding gemaak word nie en dat vrouens net so geregtig daarop as mans was om te stem en stadsraadslede te word, mits jy eiendom van die vereiste waarde besit of huur en dus ‘n belastingbetaler is. Nodeloos om te sê, verreweg die meeste vrouens was as huisvrouens nie in dié kategorie nie en het dus nie munisipale stemreg gehad nie. Dit was in die hande van hul eggenote. Swart en Muir het in 1920 en 1923 die kandidatelys gehaal, maar is al twee keer deur manskandidate geklop.
In 1928 is die toepaslike munisipale ordonnansie van Bloemfontein uiteindelik aangepas sodat ‘n getroude vrou van wie die eiendom op haar man se naam geregistreer is, ook munisipale stemreg kon kry. Die bewoording van die ordonnansie het egter verwarring geskep of dié vrouens hulle ook as stadsraadskandidate kon laat geld.
Marie Visser was onder die indruk dat sy wel daarop geregtig is. Helaas moes sy in 1929 haar op regsadvies onttrek as gevolg van die dubbelsinnige betrokke ordonnansie. Toe die provinsiale regering dié kwessie spoedig in die reine bring, was Marie die daaropvolgende jaar terug in die stryd.
Al die vroue-organisasies in die stad is in 1930 deur die Burger- en Stemregvereniging vir Vroue genader om benoemings te doen waaruit ‘n keurkomitee twee kandidate vir die komende stadsraadsverkiesing sou aanwys. Marie het die kortlys gehaal, maar E. Eybers en H.G. Duthie, beide Engelssprekend, is gekies. Dít, in weerwil daarvan dat versoek is dat een Afrikaanssprekend moes wees om ‘n gesonde balans tussen die taalgroepe te handhaaf en vrywing uit te skakel.
Dit het Marie Visser nie verhoed om in 1930 op haar eie die stryd as ‘n onafhanklike kandidaat aan te durf nie en om die Afrikaner-stem – terloops, sy was ook vlot in Engels – te verteenwoordig. In haar openbare veldtog het sy die waarde van die vrou beklemtoon om in munisipale sake huishoudelike kwessies soos die higiëne rondom melk- en brood-verspreiding meer dringend aan te spreek.
Benewens die drie vrouekandidate, was daar sewe mans in die wedloop om een van die ses vakatures los te slaan. Destyds moes die helfte van die 12 lede elke twee jaar uittree, maar kon hulle weer verkiesbaar stel. Al drie vrouekandidate het die onderspit gedelf. Bygesê, Marie het verreweg die beste van hulle gevaar. Opmerklik was die groot aantal vrouekiesers wat ywerig gestem het en kennelik nie volgens die geslagslyn nie.
In 1931, as enigste vroue-kandidaat, het Marie weer ‘n verbete, maar vergeefse, openbare veldtog gevoer om tot stadsraadslid verkies te word. Deurgaans sou sy daarop hamer dat die tyd ryp is vir ‘n vrou in die raad want “as die man en die vrou mekaar nie aanvul nie, is geen liggaam volmaak nie”.
In 1932 het sy weer uitgeval deur net-net in die sewende plek te eindig. Maar skielik was daar lig in die tonnel. Toe L.W. Dean dieselfde jaar as raadslid bedank, was Marie wéér die enigste vrouekandidaat in die tussenverkiesing wat min belangstelling uitgelok het. Sy het die enigste ander opponent, H. McLaren (‘n spoorwegpensioenaris), met 915 teen 306 stemme geklop.
Op 30 Augustus 1932 het sy as baanbreker haar plek in die raad ingeneem. Die burgemeester, adv. R.C. Streeten, het die eer gehad om haar in dié hoedanigheid hartlik te verwelkom. Sy sou tot etlike munisipale komitees verkies word. Marie sou haar setel hierna suksesvol verdedig om as enigste vrouestadsraadslid tot 1939 te dien toe sy haar nie weer verkiesbaar gestel het nie.
Dit het in hierdie tyd duidelik geword dat vroue bereid was om hulle geslagsgenote slegs te ondersteun as hulle van mening was dat ‘n kandidaat bekwaam genoeg was vir so ‘n posisie en nie net omdat hulle ‘n vrou is nie. Hiermee was mevrou D.M. Rhodes-Harrison in 1936 en 1938 gekonfronteer toe sy vêr verloor het.
Marie het in 1942 op die ouderdom van 58 gesterf.
Ofskoon vroue met verloop van jare ‘n meer algemene gesig in die stadsraad sou word, is dit insiggewend dat van die talle burgemeesters wat die stad met die loop van jare tot heden vandag opgelewer het, nog net drie vroue dié mylpaal kon bereik; Anna Vorster (1973), Gertrude Mothupi (2005-2008) en tans Olly Mlamleli.
Marie Visser – First Bloemfontein woman to be elected as Town Councillor. Although several women had endeavored to gain a seat on the Bloemfontein Town Council, Marie Visser was the first to be elected, in 1932. This was due to the amendment of the municipal ordinance in 1929 to make provision for the plural vote, by which wives whose husbands had sufficiently high property qualification were eligible to vote and stand as councillors. Visser was successful only after three previous attempts, when she won in a by-election. She served on the Town Council until 1939 when she retired.
Bronne
Die Volksblad, 11.3.1927; 14.2.1929; 23.1.1930; 11, 15 en 17.2.1930; 13.3.1930; 20.2.1931; 12.3.1931; 10 en 16.2.1932; 8.3.1932; 23.7.1932; 9.8.1932; 9.3.1933.
Oosthuizen, S.P.R. 1986. Register van die Provinsiale Raad van die Oranje-Vrystaat 1911-1986 Bloemfontein: Uitvoerende Komitee OVS.
Schoeman, K. 1980. Bloemfontein – Die ontstaan van ‘n stad 1846-1946. Kaapstad: Human & Rousseau.
Swart, M.J. e.a. (reds.). 1980. Afrikaanse kultuuralmanak Johannesburg: FAK.
Van der Merwe, J. 2012. Vrystaatse dorpe. Bloemfontein: Jan van der Merwe.
The Friend, 19.2.1929; 12.2.1930; 7.3.1930; 13.2.1931; 6, 7, 12 en 31.3.1931; 28.1.1932; 10.3.1932; 28.7.1932; 10.8.1932; 7 en 22.2.1933; 9.3.1933; 23.3.1934; 8.3.1935; 12.3.1936; 9.3.1939.
Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek: MHG 34063, boedel M.M.E. Visser, 1942.
Marie Visser (Foto: The Friend, 25.2.1935)
Gladys Steyn (Foto: Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek)
Burgemeester R.C. Streeten (Foto: Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek)
Anna Vorster (Foto: Nasionale Museum)
Gertrude Mothupi (Foto: Bloemfontein Courant)
Olly Mlamleli (Foto: Bloemfontein Courant)
Comments are closed.