Sport het sedert die vroegste dae van Bloemfontein se ontstaan in 1846 ’n belangrike rol in die lewe van die inwoners gespeel. Die koms van kaptein (later majoor) H.D. Warden, die stigter van Bloemfontein, en sy Britse soldate was ook die begin van sportbedrywighede in die latere Vrystaatse hoofstad. Krieket, perdewedrenne, rugby en sokker is sportsoorte wat deur die Engelssprekendes na Bloemfontein gebring is.
Teen die einde van die 19de eeu was Bloemfontein nie veel meer as ’n groterige dorp nie. In 1888 het die stadsraad ’n stuk grond op die hoek van Aliwal- en Zastronstraat aan die rand van die destydse dorp beskikbaar gestel om as openbare ontspannings- of sportterrein (die latere Ramblersklub-sportterrein) te dien. Die renbaan waar perdewedrenne gehou is, is ook na die nuwe ontspanningsterrein verskuif en in Desember 1890 is ’n groot pawiljoen of “grand stand” van hout en sink by die renbaan opgerig. In 1898 is die nuwe Ramblersklub-gebou geopen, maar vyf jaar later het dit afgebrand en is deur die huidige klubgebou vervang. Atletiek, krieket, sokker, boks, skerm, fietsry en stap is ook op dié sportterrein beoefen. Bloemfontein se inwoners het ook aan ander sportsoorte soos biljart, gholf, gymkhana, hengel, jag, kroukie, ringgooi (quoits), skyfskiet en watersport deelgeneem. In hierdie artikel word net enkele sportsoorte bespreek.
Die eerste georganiseerde atletiekbyeenkoms in Bloemfontein is in 1875 gehou en op 23 Mei 1890 is die Bloemfonteinse Amateur-atletiekklub gestig. Tydens die atletiekbyeenkoms wat op 23 April 1890 by die nuwe ontspanningsterrein plaasgevind het, is perderuiters verbied om binne die omheining te kom, terwyl The Friend berig het dat “all dogs will be mercilessly destroyed”. Perderuiters het voorheen toeskouers se sig belemmer en honde het op die atletiekbaan gehardloop en wedstryde ontwrig. Behalwe die gewone atletieknommers het die program ook boeresport-items soos eier-in-’n-lepel-resies en toutrek ingesluit, terwyl daar ’n spesiale resies oor een myl (1,6 km) vir swart mans was. Atlete van Colesberg, die res van die Vrystaat en selfs Johannesburg het ook in Bloemfontein om pryse meegeding. Vroue het nie in die 19de eeu aan atletiek deelgeneem nie.
Tennis was baie gewild in 19de-eeuse Bloemfontein en die eerste blanke tennisklub, die Bloemfontein Lawn Tennis Club, is in 1884 gestig. Tennis was een van die min sportsoorte wat vroue in die 1890’s kon beoefen. In 1887 het die tennisklub reeds 50 lede gehad, waarvan 20 dames was. Swart mense het die Oriental Tennis Club in Waaihoek gestig.
Openbare tennisbane is op verskeie plekke aangelê, terwyl van die meer welgestelde inwoners van Bloemfontein hulle eie tennisbane gehad het. Kampioenskapstoernooie vir mans en vroue is gereeld aangebied, maar daar is ook op sosiale vlak tennis gespeel met prettige wedstryde soos “Married vs Single”.
Die tennisdrag van vroue in die 19de eeu was uiters onprakties: Vrouespelers was volgens die mode van die tyd uitgevat in ’n lang romp en ’n bloes met ’n hoë nek en lang moue, asook ’n hoed en soms selfs handskoene. Ella Fischer (née Fichardt) beskryf hoe vroulike tennisspelers destyds gespeel het: “… ladies tripping over the tennis-court, fancy hats set perilously high on their heads and long skirts daintily upheld in one hand to allow some freedom of motion, while with the other hand they returned, or quite often otherwise, their adversary’s stroke, still retaining their hats on their heads.” Op sosiale vlak is dit as onbeskof beskou indien ’n man tydens gemengde dubbels ’n bal hard na ’n vrou geslaan het.
Manlike tennisspelers was eweneens deftig geklee in ’n langbroek, baadjie en hoed, kompleet met das en selfs ’n horlosieketting. Talentvolle Bloemfonteinse tennisspelers in die 19de eeu was Lionel Richardson en C.H. Collet, sowel as mevv. Gertrude Beck, Effie Maclagan en Mary Hopwood (later mev. Tate). Richardson, Maclagan en Tate het van 1891 tot 1893 aan die Suid-Afrikaanse Ope-tennistoernooi in Port Elizabeth deelgeneem waar Richardson in 1891 en 1892 die mansenkelspeltitel verower het, terwyl Maclagan in 1892 en 1893 die naaswenner van die damesenkelspel was.
Tydens die 19de eeu is daar ook kroukie gespeel, maar meer op sosiale vlak. Hierdie is ’n statige sport wat beide mans en vroue gelyktydig kon speel en hier het die dames se lang rokke nie so gehinder soos by tennis nie. Die meer welgestelde inwoners het dikwels ’n kroukiebaan in hulle tuin gehad. Sophie Leviseur vertel hoe sy en haar man, Moritz, op maanligaande tot ná 20:00 kroukie in hulle tuin gespeel het, terwyl hul aandete, tot groot misnoeë van hulle swart kok, Ayah, koud geword het.
Reeds in die 1850’s het die Bloemfontein-krieketklub sy ontstaan gehad en is krieket op enige oop stuk grond gespeel, totdat die krieketklub in 1874 ’n stuk grond by die stadsraad gekry het. In 1889, met die totstandkoming van die openbare ontspanningsterrein (die latere Ramblersklub), het die krieketveld na dié terrein verskuif.
Tydens die 19de eeu het daar verskeie krieketklubs in Bloemfontein bestaan, terwyl skole soos Grey-kollege en St. Andrew-skool en selfs die meisies van St. Michael-skool ook krieket gespeel het. Hierdie krieketklubs het gereeld teen mekaar wedstryde gespeel, asook teen spanne van ander dorpe. Interessante ad hoc-spanne is saamgestel om op sosiale vlak teen mekaar te speel. Voorbeelde hiervan is spelers ouer as 25 jaar teen spelers jonger as 25 jaar; “New-Comers vs Old Chums”; “Handsome vs Ugly”; getroudes teen ongetroudes; “Veterans vs Colts” en “Dark vs Fair”. Hierdie sosiale wedstryde is nie te ernstig opgeneem nie en die spelers het waarskynlik baie pret tydens dié wedstryde gehad.
Bloemfonteinse krieketspelers het ook vir die Vrystaatse span teen ander lande en provinsies gespeel. In Maart 1892 is 11 Bloemfonteinse spelers vir die Vrystaatse span gekies wat teen ’n Engelse span in die Vrystaatse hoofstad gespeel het. C.G. (Charlie) Fichardt en J.F. du Toit van Bloemfontein het vir die Suid-Afrikaanse elftal gespeel wat in Maart 1892 in Kaapstad teen die besoekende Engelse span meegeding het.
Aan die einde van 1890 het die Oriental Cricket Club vir swart mense in Bloemfontein tot stand gekom, maar hulle het nie teen die blankes krieket gespeel nie. Op Kersdag 1890 het dié klub in Bloemfontein teen ’n bruin krieketspan, The Progress, gespeel, terwyl die Orientals ook teen swart spanne van Thaba Nchu, Colesberg en Aliwal-Noord meegeding het. Wedstryde teen ander dorpe het gewoonlik op vakansiedae plaasgevind. Tydens die wedstryd op Nuwejaarsdag 1892 is vermeld dat heelwat swart vrouens die wedstryd bygewoon het. Baie van die swart spelers was ook in tradisionele krieketdrag uitgevat, met baadjies en flanelbroeke.
Reeds in 1850 het die eerste perdewedrenne op koningin Victoria van Brittanje se verjaardag (24 Mei) plaasgevind en veral die Engelssprekendes het ywerig daaraan deelgeneem. Keffende honde wat agter die perde aangestorm het, het aanleiding gegee tot ’n regulasie dat honde op die renbaan doodgeskiet sou word. In Februarie 1864 is die Free State Turf Club gestig en wedrenne is ook op ander dae gehou.
Die perdewedrenne was ’n belangrike gebeurtenis op die sport- en sosiale kalender van Bloemfontein en was gewilde sosiale byeenkomste vir al die inwoners van die hoofstad – wit, bruin en swart. Barolong-prinse van Thaba Nchu en ander swart opperhoofde het ook soms die perdewedrenne kom ondersteun, terwyl besoekers, deelnemers en perde-eienaars so vêr as Kaapstad die wedrenne bygewoon het. Toeskouers het in hulle rytuie langs die baan gesit, piekniekmandjies is gepak en daar het ’n karnavalgees geheers. Tydelike verversingstalletjies is opgerig waar onder meer versnaperinge, bier, wyn en spiritualieë verkoop is.
Sedert 1870 is daar gereeld rugbywedstryde in Bloemfontein gespeel en teen 1895 het Bloemfontein vyf rugbyklubs gehad, terwyl die Bloemfonteinse seunskole, Grey en St. Andrew, ook goeie rugbyspelers gehad het. Bogenoemde klubs het gereeld teen mekaar gespeel, maar daar was ook sosiale wedstryde waar ad hoc-spanne net soos by krieket saamgestel is. Voorbeelde van hierdie sosiale wedstryde, wat in ’n meer lighartige luim gespeel is, was onder meer “Free State Born vs The World” en “Free Staters vs All Creation”. Tog was daar klagtes dat die spelers vuil taal op die veld gebruik het en nie die rugbyreëls geken het nie. Daar is ook rugbywedstryde teen ander dorpe gespeel, terwyl Vrystaatse spanne sedert 1894 aan die bekende Curriebeker-kompetisie deelgeneem het.
Sport het dus in die 19de eeu ’n belangrike rol in die lewe van Bloemfontein se inwoners gespeel en baie daartoe bygedra om die lewe van hierdie klein gemeenskap in die binneland van Suid-Afrika te veraangenaam. Die gewildste sportsoorte tydens die 19de eeu was krieket, tennis, rugby en perdewedrenne.
“Married vs Single” and “New-Comers vs Old Chums”: Sport(s) in Bloemfontein in the 19th century. Sport played an important role in the lives of Bloemfontein’s residents in the 19th century, and contributed greatly to improving their quality of life. The most popular sports during this time were cricket, tennis, rugby and horse racing. Although different sports clubs and teams played matches against each other and against other towns, cricket, tennis and croquet were also played on a more fun-filled, social level, with interesting ad hoc teams with names like “Married vs Single”, “New-Comers vs Old Chums”, “Handsome vs Ugly”, “Veterans vs Colts” and “Dark vs Fair”. Residents furthermore participated in other sports such as athletics, billiards, boxing, cycling, golf, gymkhana, fishing, hunting, croquet, quoits, shooting, soccer, hiking and water sports. Hindered by their long dresses and according to the prevailing Victorian tradition, women only participated in tennis, cycling and croquet, although school girls also played cricket. In this article, only a few sport codes are discussed.
Bronne
De Express, 4.11.1890; 23.12.1890 en 7.4.1891.
Fischer, E. 1986. Introduction in M. & C. H. Bidwell, Pen pictures of the past. (red. K. Schoeman). Vrijstatia reeks nr. 5. Kaapstad: Human & Rousseau.
Janse van Rensburg, P.J.N. 1949. ’n Histories-sosiologiese studie van die ontwikkeling van vryetydsbesteding en ontspanning binne die stadsgebied van Bloemfontein. M.A.-verhandeling, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein.
Janse van Rensburg, P.J.N. 1996. Só het die stad se geriewe gegroei”, bylae tot Die Volksblad, 28 Maart: 27.
Odendaal, A. 2003. The story of an African game: black cricketers and the unmasking of one of cricket’s greatest myths, South Africa 1850-2003. Kaapstad: David Philip.
Rosenthal, E. 1960. Heinrich Egersdörfer: ’n Outydse sketsboek. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Schoeman, K. 1980. Bloemfontein ― Die ontstaan van ’n stad 1846-1946. Kaapstad: Human & Rousseau.
The Friend, 2.1.1889; 17.4.1889; 8 en 18 9.1889; 23.4.1890; 21.5.1890; 22.8.1890; 26.09.1890; 27.12.1890; 23.1.1891; 2.6.1891; 4.08.1891; 6.11.1891; 1, 4, 8, 11 en 31.3.1892; 22 en 26.4.1892; 1 en 11.11.1892; 21.2.1893; 7.4.1893; 21.3.1893; 30.11.1894; 5 en 26.2.1895; 8 en 15.3.1895; 9.4.1895; 24.5.1895; 8 en 25.10.1895.
Van Rensburg, S. 1980. Die sosiale lewe in die Ou-Vrystaat in P.W. Grobbelaar (red.), Die Vrystaat en sy mense. Kaapstad: Tafelberg.

Die oorspronklike Ramblers-klubgebou (geopen 1898) met die pawiljoen daarnaas wat in 1890 vir die spoorwegfeesvierings opgerig is, ongeveer1900. (Foto: Nasionale Museum)

Tekening deur Heinrich Egersdörfer van ’n gemengde dubbelstenniswedstryd in Suid-Afrika, ongeveer 1880. (Bron: E. Rosenthal)

Figuur 3: ’n Tennisgroep van 1880. (Foto: Nasionale Museum)

Tekening van kroukiespelers voor die Tweede Presidensie in Bloemfontein, ongeveer 1880. (Foto: Nasionale Museum)

’n Bloemfonteinse krieketspan by Ramblersklub, 1894. Agter tweede van links is Arthur Fichardt, met Clem Tate derde van links. Middel tweede van regs is Charlie Fichardt. Op die grond sit Hugh Bidwell (links) en A. Hill. (Foto: Nasionale Museum)

Figuur 6: ’n Militêre perderesies in Bloemfontein tydens die Anglo-Boereoorlog. (Foto: Nasionale Museum)
Foto-byskrifte:
- Die oorspronklike Ramblers-klubgebou (geopen 1898) met die pawiljoen daarnaas wat in 1890 vir die spoorwegfeesvierings opgerig is, ca. 1900. (Foto: Nasionale Museum)
- Tekening deur Heinrich Egersdörfer van ’n gemengde dubbelstenniswedstryd in Suid-Afrika, ca. 1880. (Bron: E. Rosenthal)
- ’n Tennisgroep van 1880. (Foto: Nasionale Museum)
- Tekening van kroukiespelers voor die Tweede Presidensie in Bloemfontein, ca. 1880. (Foto: Nasionale Museum)
- ’n Bloemfonteinse krieketspan by Ramblersklub, 1894. Agter tweede van links is Arthur Fichardt, met Clem Tate derde van links. Middel tweede van regs is Charlie Fichardt. Op die grond sit Hugh Bidwell (links) en A. Hill. (Foto: Nasionale Museum)
- ’n Militêre perderesies in Bloemfontein tydens die Anglo-Boereoorlog. (Foto: Nasionale Museum)

Comments are closed.