Submit an article to Indago - a peer reviewed journal
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal

Hoffmanplein weer opgetooi

Na ‘n paar dekades wat Bloemfontein sedert die 1960’s saam met sy onooglike beton-stadsplein, te wete Hoffmanplein, moes leef, het die plein in ‘n mate sy ou glorie teruggekry.  Die stadsraad het uiteindelik die wysheid in pag gehad om met vernuwing te poog om wat eens ‘n lowergroen pragplein was en toe deur opvolgende stadsrade verknoei is, te herstel.

Aan die begin van 2015 het burgemeester Thabo Manyoni die ‘nuwe’ Hoffmanplein, ‘n plein wat so te sê sedert die stad se ontstaan – ‘n allemintige bykans 170 jaar gelede – ‘n inherente deel van sy hartslag was en is, na sowat R40 miljoen se werk weer oopgestel.

Oud-Bloemfonteiners wat verspreid oor Suid-Afrika woon en baie wat na alle waarskynlikheid studente aan die Universiteit van die Vrystaat was, asook die huidige inwoners, sal kennelik met nostalgie Hoffmanplein onthou – die oues van dae as ‘n pronk groenplein en die latere geslag die monstrositeitplein van beton.

Gewoonlik vorm ‘n dorp of stad se sentrale plein, in die vroegste jare meermale ‘n markplein, die hartslag van sy mense – die sosiale en kommersiële bymekaarkomplek van sy inwoners.  In Bloemfontein was dit nie minder so nie.  Deur die dekades was daar ‘n besondere gehegtheid van die inwoners aan hulle markplein en later stadsplein.

Maar die pad wat dié plein geloop het van markplein tot stadsplein is interessant, en ongelukkig ook  veelbewoë, om te kom waar dit vandag is.

Na Bloemfontein se ontstaan in 1846 het rondom die markplein wat op die vlakte noord van die spruit (later bekend as Bloemspruit) uitgelê is en teen 1853 vorm aangeneem het, die winkels, die hotels, die poskantoor, die klubgebou en ander geboue van die dorpie geleidelik opgespring.  Dit het tereg die naam Markplein gekry en algaande die middelpunt van die stadjie geword.

‘n Eenvoudige markgeboutjie is hier opgerig.  In die 1880’s is dit gevolg deur ‘n aanskouliker markkantoor en in die volgende dekade aangevul met ‘n oordekte mark.  Voor die poskantoor het die produkte- en veemark in en om die marksaal voortgegaan met al sy gejaagde bedrywighede, vullis, lawaai en stank.  Veral op Saterdae kon benewens die talle verkopers, kopers en toeskouers tot ‘n 100 waens en ‘n 1 000 osse hulle op die ruimte van Markplein tuismaak.  Dít alles het kakofoniese klanke van ‘n geskreeu, geroep, gesels, geskater en ‘n gebulk afgegee.

Namate Bloemfontein na die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) snel uitgebrei en deftiger geword het, is gevoel ‘n mark met sy samedromming van mens en dier, gepaardgaande met al die geluide en reuke, onvanpas vir die middestad is.

In 1925 het ‘n nuwe groot markgebou op Baumannplein, geleë ‘n blok noordoos van Markplein, tot stand gekom.  Die ou markplein is toe omskep in ‘n plein wat pragtig sou vertoon met bome (150 is aangeplant), paadjies, grasperke en talle roos- en blombeddings.  Nog meer so toe in 1935 ‘n spuitfontein met kleurliggies opgerig is, glo die eerste beligte fontein in die land.  ‘n Monument wat die gesneuweldes van die Eerste Wêreldoorlog herdenk, is ook in die middel van die plein staangemaak.

Aan die plein met sy nuwe parkgewaad is in 1926 die naam President Hoffmanplein toegeken, wat spoedig net Hoffmanplein sou word.  Name soos Maitlandplein, na aanleiding van Maitlandstraat (hy was ‘n eertydse Kaapse goewerneur),vandag Charlotte Maxekestraat, wat as hoofstraat noord van die plein verbyloop, en Presidentplein het nie die paal gehaal nie.

Josias Philippus Hoffman (1807-1879) was die eerste president van die Oranje-Vrystaat nadat dit in 1854 ‘n republiek geword het.  Die volgende jaar het hy bedank na ‘n vertrouensbreuk tussen hom en die Volksraad.  Ofskoon hy in sy kort ampstermyn beswaarlik die geleentheid gehad het om sy merk te maak en as mens deur sommige as kleinlik, haatdraend en bekrompe gekenmerk is, was hy ten minste die eerste president en die persoon wat die Vrystaat tot republiekwording gelei het.

Inwoners was trots op hulle plein.  Jare lank is dit saans besoek om die liggies en rustigheid van die goed instandgehoude tuinuitleg te bewonder.  Daar is ook goedig gekorswel dat dit so vervelig in Bloemfontein raak, dat mense in hul motors op Sondae al om en om die plein ry, dit wil sê as hulle nie langs die nasionale pad parkeer om die Sondagkoerant te lees nie.

Latere jare moes menige Bloemfonteiner in afgryse aanskou hoe hulle eens pragtige Hoffmanplein op bevel van die stadsraad deur ‘n plaaslike argitek in die gees van sogenaamde modernisering herontwerp word.  Die meeste bome is uitgehaal en die mooi roos- en blombeddings verwyder, terwyl die grasgedeeltes grootliks deur vaal plaveisel vervang is.  Alles koud, klinies … en ongenaakbaar.  Na die koms van die nuwe Suid-Afrika het dié plein selfs sy nering van ouds weer opgeneem toe smouse die terrein betrek het.

Vandag is die estetiese van die plein darem weer basies herstel.  Heelwat inheemse bome is aangeplant om die enkele palmbome vanuit die vroegste tyd aan te vul, gebruikersvriendelike plaveisel verfraai met mosaïekwerk is gelê en nuwe buswagruimtes en ‘n klein netjiese amfiteater is geskep.

En, smouse word verbied!

As die ‘uitlanders’ deesdae Bloemfontein besoek en diegene in die stad wat dit nog nie gedoen het nie, kan hulle gerus ‘n oog oor die opgeknapte Hoffmanplein kom gooi.  Ten minste is nou gepoog, nou nie heeltemal so suksesvol nie, “om die natuurlike elemente van die 1930’s terug te bring”.

Hoffman Square renewed – Hannes Haasbroek – Hoffman Square has recently regained something of its old glory, lost in the 1960s when this once beautiful green plain was turned into an ugly concrete and paving monstrosity.  Hoffman Square began as the Market Square, laid out on a plain north of Bloemspruit.  By 1853 the shops and hotels of Bloemfontein had gradually arisen around it.  As Bloemfontein became more ‘refined’ after the Anglo-Boer War, it was thought increasingly inappropriate that market gatherings, with their bustle, noise and hordes of people and animals, should take place in the centre of the city.  Therefore, in 1925 a new market building was completed on Baumann Square and the old Market Square became Hoffman Square with flower beds, lawns, a fountain and a cenotaph.  Its green beauty was destroyed in later years by a ‘modernising project’ of the city council.  In 2015 a ‘new’ Hoffman Square was opened, having been redesigned once again to bring back, in a certain sense, its former glory.

Bronne

Bloemnuus, 26.2.2015.

Botes, S.M.  1996.  ‘n Emmervol wortels vir twee sjielings.  Culna 50: 26–28.

Botes, S.M.  2014.  Bloemfontein gedurende die bewind van president F.W. Reitz, 1889-1895: ‘n Kultuurhistoriese studie. Ph.D.-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Die Volksblad, 3.5.1926.

Haasbroek, H.  2015.  Die 1922-debat rondom die strewe na en besluit oor ‘n nuwe Bloemfonteinse markterrein.  Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein 31(2): 29–48.

Nienaber, P.J., Smit, J.D. en Botes, S.M.  1987.  Vrystaatse argitektuur – Histories-argitektoniese ontwikkeling van die Vrystaatse boukuns: ‘n Oorsig. Bloemfontein: CUM.

Schoeman, K.  1980.  Bloemfontein – Die ontstaan van ‘n  stad 1846-1946.  Kaapstad: Tafelberg.

Schoeman, K.  1982.  Vrystaatse erfenis – bouwerk en geboue van die 19de eeu.  Kaapstad: Human & Rousseau.

Markplein-ca-1890

‘n Bedrywige Markplein (later Hoffmanplein) met sy markgebou in die 1890’s.  (Foto: Nasionale Museum)

Hoffmanplein-4

Die pragtige tuinuitleg op Hoffmanplein wat in 1925 tot stand gekom het toe die mark na ‘n nuwe perseel verskuif het.  (Foto: Nasionale Museum)

Hoffman-01-6782

President Josias Philippus Hoffman na wie die plein vernoem is.  (Foto: Nasionale Museum)

Hoffmanplein-spuitfontein-ou-klub

Hoffmanplein se besondere spuitfontein wat saans met gekleurde liggies verlig is.  (Foto: Nasionale Museum)

Hoffmanplein-beton

Hoffmanplein nadat dit ‘aaklig’ herskep is om in ‘n sogenaamde moderne betongewaad diens te doen.  (Foto: Nasionale Museum)

Hofmannplein-vandag

Die nuwe Hoffmanplein vandag in ‘n westelike rigting met die Reserwebank en Old Mutual op die agtergrond.  (Foto: Derek du Bruyn)

Hoffmanplein-vandag-2

Die nuwe Hoffmanplein vandag in ‘n oostelike rigting met die poskantoor op die agtergrond.  (Foto: Derek du Bruyn)

Comments are closed.