Groot sprinkaanswerms het vroeër jare baie probleme veroorsaak en hongersnood as gevolg daarvan het mens en dier menigmaal in die gesig gestaar. Die hedendaagse metodes en gifstowwe om sprinkaanplae te bestry, was nog nie beskikbaar nie en gevolglik is mense destyds telkemale herinner aan die agtste plaag wat Egipte getref het.
Die trekboere wat hulle sedert die vroeë 1800’s in die noordelike grensdistrikte van die Kaapkolonie gevestig het, het as gevolg van voortdurende droogtes en sprinkaanplae met hul vee oor die Oranjerivier getrek. Hulle het vir etlike maande hul vee daar laat wei totdat die veld op hul eie plase in die Kolonie weer geskik was vir weiding. Die nagmaal te Colesberg is in 1829 uitgestel omdat die meeste boere nog nie na hul huise kon terugkeer nie. In 1838 het Fleetwood Rawstorne, die siviele kommissaris van Colesberg, aangedui dat die meeste boere in sy distrik op ‘n gereelde basis van die veld noord van die Oranjerivier gebruik gemaak het.
In 1843 het Roualeyn Gordon-Cumming vir die eerste keer ‘n groot swerm sprinkane gesien toe hy hom tydens ‘n jagtog in die Cradock-omgewing bevind het. Die lug bokant hom het donker geword. Hy skryf: “Far as my eye could reach – east, west, north, and south – they stretched in one unbroken cloud, and more than an hour elapsed before their devasting legions had swept by.” Later het hy en sy jaggeselskap op ‘n swerm sprinkane noord van Kuruman afgekom wat vir die nag in ‘n stuk veld gaan rus het. Sy honger honde het onder die sprinkane ingevaar en ‘n feesmaal geniet. Hy en ‘n vriend het ‘n kombers oor die bosse gegooi en ‘n klomp sprinkane daarin bymekaar gemaak wat die jaggeselskap vir hulself en die honde gerooster het.
Verskeie reisigers, soldate en dies meer vertel dat stofstorms gewoonlik ook met sprinkaanswerms gepaardgegaan het. In die laat 1840’s het Alfred Cole tydens sy reis te perd vanaf Kaapstad na Colesberg hom op ‘n dag in ‘n swerm sprinkane vasgery. Niemand kan hierdie amusante staaltjie beter as Cole self vertel nie. Die wind het van voor in sy gesig gewaai en hy moes gedurig sand uit sy oë vee. Geleidelik het daar sprinkane ook van vooraf begin kom. Hy vertel:
“At first they came on gradually and in small quantities, speckling the earth here and there, and voraciously devouring the herbage. They were not altogether pleasant, as they are weak on the wing, and quite at the mercy of the wind, which uncivilly dashed many a one into my face with a force that made my cheeks tingle. By degrees they grew thicker and more frequent. My progress was now most unpleasant, for they flew into my face every instant. Flung against me and my horse by the breeze, they clung to us with the tightness of desperation, till we were literally speckled with locusts. Each moment the clouds of them became denser, till at length – I am guilty of no exaggeration in saying – they were as thick in the air as the flakes of snow during a heavy fall of it; they covered the grass and the road, so that at every step my horse crushed dozens; they were whirled into my eyes and those of my poor nag, till at last the latter refused to face them, and turned tail in spite of whip and spur. They crawled about my face and neck, got down my shirt-collar and up my sleeves – in a word, they drove me to despair as completely as they drove my horse to stubbornness, and I was obliged to ride back a mile or two and claim shelter from them at a house I passed on my route; fully convinced that a shower of locusts is more unbearable than hail, rain, snow and sleet combined.”
William King, ‘n Skotse soldaat, skryf dat hulle in 1852 in die Oos-Kaap gereeld met sprinkaanswerms in aanraking gekom het. Hulle het dan maar met half toe oë en geboë hoofde tussen die sprinkane deurgestap. Alle weiding en groente is deur die insekte verorber. Terselfdertyd het die sprinkane ook as voedingsbron gedien: “Not only did the horses and cattle greedily devour the destroyers, and the dogs and poultry run after them with open mouths, doubling and turning and jumping off their feet in absurd attempts to catch them in the air.”
Robert Moffat het gesien hoe sprinkane ‘n mielieland met jong plantjies binne twee ure kaal gevreet het. Hulle het feitlik enigiets geëet – tabak, alle groente, asook flenniemateriaal en linnegoed. Wanneer boere dus die aankoms van sprinkaanswerms waargeneem het, is daar dadelik planne beraam om te keer dat die sprinkane hul oes vernietig. Vure is rondom mielielande en tuine gemaak, terwyl al die plaasbewoners geraas gemaak het deur van items soos potte en panne gebruik te maak. Alles moontlik is gedoen in die hoop dat die sprinkane verby sal vlieg en nie in die landerye gaan sit nie.
In die Cradock-omgewing het ‘n reisiger een middag op ‘n boer en sy familie afgekom wat besig was om wit lappe te waai by ‘n mielieland waar ‘n swerm sprinkane gaan sit het. Hulle was alreeds sedert sonopkoms besig om die sprinkane te probeer verwyder, maar die omvang van die swerm was enorm en ons kan aanvaar dat hulle waarskynlik nie veel sukses behaal het nie. Boere het ook soms hulle veetroppe oor die sprinkane in die veld gejaag om soveel moontlik dood te trap, maar dit was nie baie suksesvol nie.
Sprinkaanswerms het later ook gevaar vir treine ingehou en het treine tot stilstand gedwing omdat hulle olierige binnegoed op die spore veroorsaak het dat die wiele gly. Wanneer sprinkaanswerms dus op treinspore gaan rus het, moes die treine eers gestop word. Alice Balfour maak melding van ‘n geval in 1894 in die Oranje-Vrystaat waar die trein met twee ure vertraag is. Die swerms, wat soms saam met stofstorms gekom het, was dikwels so dig dat dit vir die passasiers op die trein onmoontlik was om die dorpe op hul roete te sien totdat hul op die stasie gestop het.
Ene M.C. Bruce vertel van ‘n massiewe sprinkaanswerm wat in 1906 groot chaos in Johannesburg veroorsaak het. Die aankomende swerm is aanvanklik vir ‘n groot donderwolk aangesien, maar die realiteit het gou tot groot konsternasie gelei. Treine is gestop, motors het gegly en trems het buite beheer op die olierige spore geraak, terwyl ‘n stank die lug gevul het. Voetgangers in die strate was uiters kwesbaar. Bruce gee dit verder so weer: “They struck you in the face and got under your hat and bit your neck. They caught in ladies’ veils and under their sunshades, and slipped up their muslim dresses and bit the delicate fabrics to rags.” Die mure en dakke van huise is deur hulle toegepak, terwyl gordyne en potplante gevreet en beskadig is. Benewens die skade en stank moes die inwoners nog boonop die volgende oggend verneem dat die waterreservoirs deur die sprinkane vergiftig is.
Sprinkaan-insidente het ook in Bloemfontein voorgekom. Mary Cameron, ‘n Britse danseres en aktrise, het as deel van ‘n toneelgeselskap by verskeie teaters in Suid-Afrika kom optree. Die tweede dag na hul aankoms in Bloemfontein het die lug skielik donker geword en het ‘n groot swerm sprinkane op die dorp neergesak. Die sprinkane was orals, in die kos, in die bed en ook in die bad. Soos Cameron dit stel: “For a day or two we ate locusts, breathed locusts, walked on locusts and slept with locusts.”
- Maude Graham, ‘n Kanadese onderwyseres, wat in 1902 op Fauresmith skoolgehou het, vertel dat die klaskamer se vensters skielik op ‘n dag net donker geword het. ‘n Groot swerm sprinkane het hier neergesak. Die kinders was verskriklik opgewonde en almal is dadelik by die klaskamer uit om soveel sprinkane as moontlik dood te maak.
Met al die hartseer en probleme wat met hierdie plae gepaard gegaan het, kan die deursettingsvermoë van hierdie mense net bewonder en selfs ‘n tikkie humor in sommige insidente bespeur word. Ons kan ons nie indink hoe dit werklik moes gewees het nie, maar danksy reisigersverslae en dagboeke kan ons die sprinkaanplae ‘n bietjie beter verstaan.

Locusts: The eighth plague. In the past locust swarms were an enormous problem and could not be kept under control. Insecticides did not exist and people as well as animals suffered a great deal from the famine resulting from these plagues – a constant reminder of the eighth plague that devastated Egypt in Biblical times. Several sources, such as the diaries of travellers, provide us with insight into how people in South Africa
Bronne
Balfour, A. 1895. Twelve hundred miles in a waggon. London: Edward Arnold.
Bruce, M.C. 1908. The new Transvaal. London: Alston Rivers Limited.
Cameron, M. 1931. Merrily I go to hell. Reminiscences of a Bishop’s daughter. Hathi Trust Digital Library: http://www.hathitrust.org (7.8.2014).
Cole, A.W. 1852. Notes of five years residence in South Africa. London: Richard Bentley.
Gordon-Cumming, R. 1857. A hunter’s life among lions, elephants, and other wild animals of South Africa. New York: Derby & Jackson.
Graham, E.M. 1905. A Canadian girl in South Africa. Toronto: William Briggs.
King, W.R. 1855. Scenes and adventures in the war of 1851-2. London: Saunders and Otley.
Moffat, R. 1842. Missionary labours and scenes in Southern Africa. London: John Snow.
Van der Merwe, P.J. 1988. Die noordwaartse beweging van die boere voor die Groot Trek (1770–1842). Pretoria: Die Staasbiblioteek.

Comments are closed.