Die trekboere was half-nomadiese boere wat met hul vee agter weiding en water aangetrek het en sodoende geleidelik dieper die binneland inbeweeg het wat gedurende die 1700’s en 1800’s tot die uitbreiding van die Kaapkolonie se grense gelei het. Daar was verskillende trekboergroepe waarvan een as die Doppers bekend gestaan het.
Groot sprinkaanswerms het vroeër jare baie probleme veroorsaak en hongersnood as gevolg daarvan het mens en dier menigmaal in die gesig gestaar. Die hedendaagse metodes en gifstowwe om sprinkaanplae te bestry, was nog nie beskikbaar nie en gevolglik is mense destyds telkemale herinner aan die agtste plaag wat Egipte getref het.
Die plaas Bulhoek in die Steynsburg-omgewing is daarvoor bekend dat Steynsburg se Groot Trek-vieringe in 1838 ook daar vergestalting gekry het. Die plaas is egter meer as net ’n feesterrein, want ’n argeologiese kultuurskat vorm ook deel van die plaas.
