COVID-19 Corona Virus
South African Resource Portal
COVID-19 Corona Virus
South African Resource Portal
COVID-19 Corona Virus
South African Resource Portal
 
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal

Die trekboere was half-nomadiese boere wat met hul vee agter weiding en water aangetrek het en sodoende geleidelik dieper die binneland inbeweeg het wat gedurende die 1700’s en 1800’s tot die uitbreiding van die Kaapkolonie se grense gelei het. Daar was verskillende trekboergroepe waarvan een as die Doppers bekend gestaan het.

Living in secluded districts, clinging to old fashions and habits, inter-marrying only among neighbours and relatives, a clannish spirit was formed … The broad-brimmed felt hat, the hair cut … the short jacket, with stiff collar or collarless; the nether garments worn loosely in sailor fashion, a small knife … stuck in a leathern sheath, and worn below the hip – whoever was thus equipped was welcomed as a clansman, while everyone accoutred in more modern or English style was looked on as an alien. So beskryf John Murray die Dopperboere in ʼn artikel wat in The Cape Monthly Magazine (1876) verskyn het.

Die afkoms en betekenis van die woord Dopper is onbekend. Hierdie afstammelinge van die vroegste Europese koloniste wat in die noordoostelike grensdistrikte van die Kaapkolonie woonagtig was, het hulle reeds rondom die 1790’s in die omgewing van die latere Colesberg-distrik bevind, waar hul vir etlike jare in afsondering geleef het. Voor die stigting van Colesberg in 1830, was Graaff-Reinet (1786) en Cradock (1813) die naaste dorpe.

Hierdie trekboere het hulle aanvanklik nie permanent op hul plase in die Noordoos-Kaap gevestig nie. Droogtes en veral sprinkaanplae wat die weiding vernietig het, het die boere gedwing om ʼn gedeeltelike nomadiese bestaan te voer. Hulle het met hul vee oor die Oranjerivier na die omgewing van die Caledon- en/of Rietrivier in die Suid-Vrystaat getrek waar hul tydelik vertoef het totdat die weidingstoestande en watervoorraad op hul plase verbeter het. Sommige Doppertrekboere het wel later verkies om hulle permanent in die Suid-Vrystaat te vestig. Dit is moeilik om ʼn einddatum vir die nomadiese leefstyl van die trekboere te bepaal. J. Leyland noem dat hy in 1850 ʼn klompie boere op die walle van die Rietrivier aangetref het waar hulle in tente gewoon het. Hulle besittings het hoofsaaklik bestaan uit skape, beeste, bokke en ʼn wa.

Buiten dat hierdie boere verbind is met ʼn spesifieke geografiese gebied, is hulle ook geassosieer met sekere eienskappe wat hul van ander boere in die Kaapkolonie onderskei het.  Die Doppers word in verskeie bronne as konserwatief en anti-vooruitstrewend (modern) beskryf. Hulle kon aan eienskappe soos hul kleredrag en haarstyle uitgeken word.

Ontevredenheid met die Britse verengelsingsbeleid en die gevolglike plasing van Skotse predikante in die grensdistrikte waar min grensbewoners Engels vaardig was, asook die Kaapse Kerk se ondersteuning van die Britse beleid, was onder andere van die faktore wat uiteindelik veroorsaak het dat die meer konserwatiewe faksie van hierdie boere op kerklike gebied afgestig het van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. In 1859 is die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika gestig en het ʼn groot aantal Dopperboere en hul gesinne by die Gereformeerde Kerk aangesluit. Die naam Doppers is sedertdien met die Gereformeerde Kerk verbind sodat dit dus ʼn kerklike betekenis gekry het. Dit is egter belangrik om daarop te let dat ʼn groot aantal Dopperboere nie by die Gereformeerde Kerk aangesluit het nie, maar steeds lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk gebly het.

Wanneer argivale bronne bestudeer word, kan die Dopperboer en sy gesin as ʼn “stil”- of “stemlose”-groep beskryf word. Oor dié mense bestaan daar basies net amptelike dokumentasie soos kerkrekords en veldkornetverslae, terwyl dagboeke en verslae deur reisigers en sendelinge hoofsaaklik ʼn eensydige en grotendeels afbrekende beeld van die Dopperboer en sy gesin skets. Slegs een rekord, naamlik die digbundel van Hester Venter, gee ʼn kykie in die siel en gevoelens van ʼn Dopperboervrou.

Alhoewel daar dus heelwat geskryf is oor sekere aspekte van die Dopperboere se voorkoms,  karakterseienskappe en godsdienstige lewe, is daar feitlik geen rekords oor hul materiële kultuur nie. Ons weet dus nie van watter tipe huishoudelike en persoonlike items soos keramiek, knope, glaskraletjies, tabakpype en glasware hulle gehou het nie.

Die nomadiese leefwyse in ossewaens en tente sou waarskynlik hul besittings tot die minimum beperk het en dus ook nie veel artefakte in die argeologiese rekord agtergelaat het nie.  Dit het egter verander toe dié trekboere hulle permanent op plase begin vestig het.  Permanente bewoning het meer besittings en produkte moontlik gemaak wat dus beteken dat daar meer artefakte agtergelaat is vir bestudering. Voorbeelde van hierdie tipe items sal hoofsaaklik net deur middel van argeologiese opgrawings op terreine wat uit die Doppertrekboer-era dateer en moontlik in museumversamelings gevind kan word. Die analise van die materiële kultuur sal in ʼn sekere mate ook help om aan die Doppertrekboer ʼn‘stem’ te gee wat ons dan meer van hul leefwyse sal vertel.

Hoe het die materiële kultuur van hierdie afgesonderde en konserwatiewe trekboere en hul nageslag daar uitgesien? Sal die Doppers se anti-moderne en konserwatiewe houding ook in die oorblyfsels van hul materiële kultuur waargeneem kan word? Het eksterne faktore, soos handelaars, hul besluite onbewustelik beïnvloed en watter uitwerking het dit op die Dopperboere as ʼn kultuurgroep oor die langtermyn gehad? Dit is belangrik dat daar in ‘n multi-kulturele land soos Suid-Afrika navorsing oor verskillende kultuurgroepe onderneem word en hierdie projek is een daarvan.

Die terreine wat tans deur Gerda Coetzee en die Department Argeologie vir haar navorsingsprojek en PhD oor die Dopperboere bestudeer word, is Bulhoek in die Steynsburg-distrik, Mooifontein in die Colesberg-distrik en Leeuspruit in die Rouxville-distrik.

Trekboers and pioneer farmers from the north-eastern Cape and southern Free State. The Dopper-trekboers (migrant farmers) roamed the interior of the north-eastern Cape and southern Free State where they later settled. These descendants of the earliest European colonists at the Cape practised an austere lifestyle which earned them the nickname Doppers. Since the Dopper-trekboers initially practised a lifestyle that limited the type and amount of goods at their disposal, it is safe to assume that they left behind few traces of their material culture during this phase. This changed when they eventually began to settle down permanently. From initially living in wagons, tents or small simple houses, they were now able to obtain goods suitable for a more sedentary lifestyle. This PhD-research project of Gerda Coetzee and the Archaeology Department focuses on the material culture of the trekboers.

Parliament

Die boer se voorhuis deur Africana-kunstenaar Charles Bell, ca. 1850.  (Uit die versamelings van die Parlement van Suid-Afrika)

Parliament2

ʼn Tipiese boerehuis in die binneland van die Kaapkolonie deur Africana-kunstenaar Charles Bell.  (Uit die versamelings van die Parlement van Suid-Afrika)

A-Dopper-boer-skets

ʼn Dopperboer en -vrou. (Matthews 1887, free ebook)

Bronne

Kruger, B.R. 1957. Die ontstaan van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Pretoria: V en R Drukkery.

Kruger, H.S. & Spoelstra, B. 2001. Hester Venter (1750-1827): Vroeë Afrikaanse godsdienstige digter-skrywer. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis 15(2): 95-116.

Leyland,  J. 1972. Adventures in the far interior of South Africa. Kaapstad: C. Struik.

Matthews, J.W. 1887. Incwadi Yami or Twenty years’ personal experience in South Africa. New York: Rogers & Sherwood.

Murray, J. 1876. Some characteristics of our fellow colonists. The Cape Monthly Magazine, Junie–Desember: 369-379.

Simons, P.B. 1998. The life and works of Charles Bell. Vlaeberg: Fernwood Press.

Spoelstra, B. 1963. Die Doppers in Suid-Afrika, 1760-1899. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Van Schoor, M.C.E. 1971. Politieke groeperinge in Transgariep (Argief-jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis). Johannesburg: Staatsdrukker.

Avatar photo
Author

Comments are closed.