Submit an article to Indago - a peer reviewed journal
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal
Submit an article to Indago - a peer reviewed journal

1Departement Geskiedenis, Nasionale Museum, Posbus 266, Bloemfontein, Suid-Afrika

2Navorsingsgenoot, Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika 

Opsomming 

Die oproer in 1925 in Waaihoek, Bloemfontein se tradisionele swart woonbuurt, as gevolg van sosiaal-ekonomiese probleme, waarvan veral die loonkwessie uitgestaan het,  word gewoonlik as een van die heftigste van sy tyd in die Oranje-Vrystaat beskou en het in die teken gestaan van die algemene onrus wat landwyd geheers het. Maar slegs ses jaar tevore het die stad ook ‘n intense loonopstand onder die swart gemeenskap beleef, ‘n uitbarsting wat gesien is as die ergste wat die stad toe in jare getref het. Aan die stuur van die 1919-loonagitasie het die nasionaal bekende Henry Selby Msimang gestaan wat besondere statuur aan dié betoog gegee het. Ofskoon geweld ook ter sprake was, is dit gekenmerk deur geen lewensverlies soos by die latere een nie en hoewel gering, het die verset resultate vir swart werkers gelewer in teenstelling met die 1925-opstand se griewe wat nie  onmiddellik aandag gekry het nie. Msimang en sy ondersteuners se hoofdoel was om veral deur opruiende byeenkomste en uitsprake die swart bevolking in ‘n sterk versetbeweging teen swak lone te organiseer en deurentyd simpatie te betoon met die ekonomiese onrus waarby swart werkers elders in die land betrokke was. Hierdie loonagitasie, wat die leier in die tronk laat beland het, was dus nie sonder vrug nie.

Sleutelwoorde: Henry Selby Msimang, Joseph Twayi, loonagitasie, lone, Bloemfontein 

Abstract 

The 1925 uprising at Waaihoek, Bloemfontein’s traditional Black township at the time, which sprung from socio-economic problems of which the wage issue was paramount, is regarded as one of the most vehement uprisings of this period; a period that was in general part of a nationwide sense of unrest.  Six years prior to this, however, the city also experienced an intense wage insurgency among the Black community, viewed at the time as the worst in many years.  The nationally known Henry Selby Msimang was at the helm of the 1919 wage agitation, which lent special prominence to this protest.  Unlike the 1925 uprising, and despite the fact that this uprising was also not without violence, no loss of life occurred and it delivered results, whereas the 1925 grievances were not immediately addressed. Msimang and his followers used seditious meetings and speeches to incite the Black community into organising a strong rebellion movement to revolt against poor wages. At the same time they also constantly sympathised with the economic unrest among Black workers elsewhere in the country. Although this wage agitation landed Msimang in jail, it did produce some positive results.

Keywords: Henry Selby Msimang, Joseph Twayi, wage agitation, wages, Bloemfontein

Inleiding

“With statesmanlike diplomacy [he] managed to raise the standard of Bantu workers’ wages in Bloemfontein in 1919 … One of the finest and fearless platform, press and public advocates and speaker on behalf of the Bantu people.” So het Henry Selby Msimang (fig. 1) se tydgenoot, John Mancoe, tereg oor eersgenoemde in sy insiggewende publikasie First Edition of the Bloemfontein Bantu and Coloured People’s Directory opgemerk.[1]

Henry Selby Msimang

Figuur 1. Henry Selby Msimang (foto: Nasionale Museum)

Die 1925-oproer (fig. 2) in die Waaihoek-township, Bloemfontein se tradisionele swart woonbuurt, as gevolg van sosiaal-ekonomiese probleme, waarvan veral die drakoniese sorgumbier-regulasies en die loonkwessie uitgestaan het,  word gewoonlik as een van die heftigste van sy tyd beskou as gevolg van lewensverlies en het in die teken gestaan van die algemene onrus wat landwyd geheers het.[2] Maar slegs ses jaar tevore het die stad ook ‘n intense loonopstand onder die swart gemeenskap beleef, ‘n uitbarsting wat tóé gesien is as die ergste wat die stad in jare getref het. Hierdie loonuitbarstings moet gesien word teen die agtergrond van die donker ekonomiese tyd wat Suid-Afrika na die ontwrigtende Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) beleef het. Veral inflasie, werkloosheid en ontoereikende loonverhogings het wydverspreide arbeidsonrus onder wit en swart in die land tot gevolg gehad. Tereg kan gesê word dat die konfronterende aard van die verhoudings tussen veral swart vakbonde en werkgewersorganisasies in die eerste kwart van die 20ste eeu op toenemende onrus tussen arbeid en kapitaal uitgeloop het. Die militante gees wat in die eerste twee jaar na die wêreldoorlog onder swart werkers aanwesig was, het kennelik ‘n gevoel van lotsverbondenheid, waaronder swak lone, aangewakker en bygedra tot die radikalisering van swart loonopstande en versetbewegings.[3]

Waaihoek se ingang

Figuur 2. Tydens die oproer in 1925 vergader wit inwoners by Waaihoek se ingang, terwyl swart oproeriges op die agtergrond saamdrom. (foto: Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek)

Aan die stuur van die loonagitasie in 1919 het die nasionaal bekende Henry Selby Msimang gestaan wat besondere statuur aan dié protestasie gegee het. Hy was van 1917 tot 1922 in Bloemfontein woonagtig. As ‘n bekende kampvegter van swart belange in die stad—hy sou mettertyd die status bereik as een van die bekendste arbeidersleiers van sy tyd—het hy veral beïndruk as woordvoerder tydens gesamentlike byeenkomste van die swart rolspelers en die stadsraad om oor swart sake te beraadslaag. Bowenal het hy aan die swart inwoners ‘n eie koerantjie, Morimioa (The Messenger), voorsien wat ongekend in die geskiedenis van die stad was.[4] Maar, en dit is waaroor die studie gaan, sy grootste prestasie in Bloemfontein was op ekonomiese gebied en veral op die terrein van loonagitasies.[5]

Wat dus in hierdie artikel beklemtoon word, is Msimang en sy ondersteuners se hoofdoel om veral deur byeenkomste en uitsprake, partykeer opruiend ander kere minder so, die swart inwoners in ‘n sterk versetbeweging teen swak lone te organiseer. Daarbenewens is deurentyd simpatie betoon met die ekonomiese onrus waarby swart werkers elders in die land betrokke was. Die gepaardgaande geweldpleging, polisieoptrede en die arrestasie en hofsaak van Msimang word in die studie in oënskou geneem. ‘n Insiggewende wending in die hele loon-sage wat vermelding verdien, is dat twee uitstaande swart leiers in Bloemfontein teen mekaar te staan gekom en verdelend op die agitasie ingewerk het. Aan die een kant die nuwe vurige jong inkomeling Msimang wat sonder handskoene die loonstryd aangepak het. Aan die ander kant die ou gevestigde leier Joseph B. Twayi wat meer gematig en gedienstig teenoor die wit owerheid in die stryd was.

Deur gebruik te maak van veral koerantberigte landswyd, maar veral die Bloemfonteinse blad The Friend wat gewoonlik noukeurig en in detail oor sodanige fasette berig het, en toepaslike owerheidsdokumente soos die notules van die stadsraad en die munisipale Komitee vir Naturellesake, asook die verslae van die superintendent vir lokasies, word die loonagitasie van 1919 ontvou. Hierdie loonagitasie en verdere ywerige agitasies in die 1920’s het juis daartoe gelei dat Bloemfontein landswyd bekend sou staan as die bakermat van die swartes se stryd om beter lone.[6]

Die loonagitasie

Msimang se grootste prestasie in Bloemfontein was ongetwyfeld op ekonomiese gebied. Ofskoon hy nie soseer ‘n ekonomiese agtergrond gehad het nie, het hy deeglik besef dat die kern van sy mense se probleme hiér gesoek moes word. Dit was ongetwyfeld een van Msimang se grootste doelwitte in Bloemfontein om te agiteer vir beter lone vir veral die ongeskoolde swart werkers van die stad. En menige swart arbeiders in die stad was ontvanklik vir so ‘n agitasie.  In ‘n brief aan The Friend in Julie 1918 het ene Jacob T. Tatane juis opgemerk dat wit werkers die pas in die land aangee om deur stakings en agitasies hul strewe na beter werkomstandighede en hoër lone suksesvol te bewerkstellig. Volgens Tatane was dit dus hoog tyd dat die swart man ook dié weg volg wat deur die wittes vir hulle landswyd en oorsee as voorbeeld gestel word en dat die snedige opmerking dat hulle te groot vir hul skoene is hul nie langer sou intimideer nie.[7]

Toe die Eerste Wêreldoorlog teen einde 1918 beëindig is en die South African Native National Congress (SANNC) se welwillendsheidsooreenkoms met die regering verval het om nie gedurende die oorlog laasgenoemde oor enigiets te opponeer nie, het Msimang onmiddellik begin om die stryd vir beter lone aan te voer. In die hele proses het hy die leiding geneem. Ofskoon daar nie opvallende kommunistiese aktiwiteite in Bloemfontein teenwoordig was nie—die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party is immers eers in 1921 gestig—het Msimang beweer dat hy deur kommuniste genader is om hom in hierdie proses behulpsaam te wees, maar as ‘n anti-kommunis het hy dit van die hand gewys.[8]

Die minimum werkersloon was 2s. (sjielings) per dag. Volgens Msimang was dit geheel en al ontoereikend om bloot ‘n bestaan mee te voer. As ‘n gesin van vyf slegs die basiese soos hout, mieliemeel (slegs vir die oggend), kole, tee, koffie, suiker, melk, brood, vleis, kerse en seep vir hulle daaglikse onderhoud benodig, het Msimang bereken, sou hulle ‘n minimum loon van ten minste 4s. 6d. (pennies) moes ontvang.[9]

Swak lone was inderdaad een van die groot knelpunte van die swart samelewing. Maar vanselfsprekend is hulle in hierdie jare in die townships ook gegrief deur onder andere werkloosheid, swak paaie, ‘n gebrek aan behoorlike openbare vervoer, water- en elektrisiteitsvoorsiening, onvoldoende behuising, riolering en gesondheidsorg, ‘n relatief swaar belastinglas en die gehate passtelsel.[10]

Nadat hulle die onrustigheid onder swart werkers oor hul swak lone in oënskou geneem het, blyk dit dat wit werkgewers, asook rolspelers in die owerheid, aan die begin van Februarie 1919 nie die erns van die kwessie ingesien het nie. Hulle was toe nog van mening dat met die nodige diplomatiese oorleg met die ontevredenes alles spoedig in der minne geskik sou word.[11] Met die driftige Msimang aan die voorfront sou die loonagitasie weldra momentum optel en die werkgewers op die agterhoede dwing.

Teen einde Februarie 1919 het Msimang reeds etlike massavergaderings, gewoonlik op ‘n Sondag, naby die Fichardt-sylyn in die Hamilton-omgewing gehou. As hoofspreker het hy in taamlike opruiende spraak die meermale oproerige teenwoordiges aangespoor om vir hoër lone te agiteer, hoër lone wat op 4s. en 6d. moes neerkom. Én dit is gedoen in die “customary flamboyant language of the native orator”, aldus The Friend.[12]  In sy toesprake het hy terselfdertyd wit Bloemfontein gewaarsku teen een of ander vorm van staking indien nie aan hul versoek gehoor gegee word nie—bygesê dit het gewoonlik by dreigemente gebly en nie ‘n werklikheid in die tyd geword nie. Etlike blankes het gewoonlik ook dié byeenkomste bygewoon, waaronder die gereg, waarskynlik om te kon terugrapporteer of onheil broei. Hulle is deur die aanwesige swart skares luid verwelkom wat kennelik met die toedrag tevrede was want sodoende kon hulle uitlatings oor hoër lone, behalwe deur die persverteenwoordigers, ook so die ore van diegene bereik wat dit juis moes hoor.[13]

Inmiddels het lede van die Arbeidersparty (dié party het in 1910 tot stand gekom om wit werkers te verteenwoordig) wat op 20 Februarie in die Garden-teater in Bloemfontein vergader het met die oog op die komende munisipale verkiesings, hulle nie alleen uitgespreek teen die gebrekkige loon van 7s. 6d. vir ongeskoolde wit werkers nie wat na 10s. verhoog moes word nie, maar ook gepleit dat swart werkers se lone na ten minste 2s. 6d. moes opgaan.[14]

Veral tydens die loonagitasie-byeenkoms op 23 Februarie 1919, ‘n uitsonderlike oproerige een, het Msimang hom besonder vurig uitgelaat oor die aangeleentheid. ‘n Ooggetuie sou juis  later opmerk dat die toespraak “boil[ed] a man’s blood”, terwyl hy gehoor het iemand skreeu “we’ll declare war”. In sy toespraak het Msimang sy toehoorders aangesê om geen vrees vir vuurwapens te toon nie en hulle gewaarsku van die ontberings wat ‘n staking vir hulle sou inhou. Hy het sinsnedes soos “be ready for anything”, “be prepared for the dark day which is marked on our calendar” en “hold yourself in readiness to drink from the bitter cup together” ingesluit, aldus ‘n verslaggewer van The Friend se getuienis later.[15] Die aanklank wat hy as leier van die loonagitasie onder die werkers gevind het, spreek duidelik uit die wyse waarop hulle hom na afloop van dié byeenkoms onder luide toejuiging skoueromhoog deur die menigte gedra het.[16]

Soos aangedui sal word, het die opruiende sinsnedes van Msimang, wat oop was vir verontrustende vertolkings, vanselfsprekend die blankes in die stad laat opskrik as sou geweldpleging daardeur aangemoedig word. Hy sou trouens meesterlik daarin slaag om deur sy soms beleefde matige en soms opvallende dreigende toon van sy aanslag die werkgewers op die punte van hul tone te hou om nie die kwessie as van minder belang van die tafel te vee nie.

Msimang het die swart werkers, insluitende vroulike huisbediendes, in die tyd sodanig georganiseer dat hulle weldra op ‘n gegewe tyd hulle werkgewers versoek het om die genoemde loonaanpassing toe te staan. Hy het ook daarin geslaag om met die nodige diplomasie die Vrystaatse SANNC-tak se kondonering van die loonagitasie te kry, ofskoon sommige lede van mening was dat die Vrystaat nie ten volle op hoogte is van wat die agitasie alles behels nie en so ‘n ondersteunende uitspraak vir eers agterweë gelaat moes word.[17]

Msimang vs Twayi

As jong en nuwe inkomeling in Bloemfontein het Msimang sy stempel as leiersfiguur van meet af op die openbare en politieke sfeer van die swart gemeenskap van Bloemfontein afgedruk. Dit het meegebring dat hy in heelwat opsigte meer prominent uitgestaan het teenoor vooraanstaande en ou gevestigde plaaslike leiers soos Twayi, C.J. Libate, M.J. Mocher, I.B. Mompati, J.B. Sesing, P. Phatlane en B. Kumalo. Thomas M. Mapikela, in daardie stadium reeds jare lank ‘n welbekende kampvegter vir swart belange en SANNC-strydros met nasionale aansien, was waarskynlik al een wat hom toe kon troef.[18]

Veral tussen Msimang en Twayi was daar opvallend vrywing. As uitstaande leiersfiguur, in ‘n stadium president van die Vrystaatse SANNC-tak, was Twayi, ook as sameroeper, betrokke by die amptelike Adviserende Naturelleraad[19] wat die munisipaliteit se Komitee vir Naturellesake bygestaan het, maar  sonder dat eersgenoemde raad werklike mag gehad het. Ook op opvoedkundige, godsdienstige en sportgebied het hy ‘n belangrike rol gespeel.[20] As sodanig het hy homself waarskynlik beskou as een van die belangrikste gevestigde segsmanne vir swart belange in Bloemfontein en ‘n persoon wat weens sy gematigdheid en rasionele denke goeie betrekkinge met die stadsraad kon handhaaf. Hy het derhalwe die “indringing” van die heelwat jonger, dinamiese en ietwat voortvarende Msimang op die gebied negatief ervaar. Negatiewe gevoelens jeens Msimang het immers reeds ontstaan kort na sy aankoms in Bloemfontein toe hy bo die gevestigde vooraanstaande plaaslike swart gemeenskapsleiers gevra is om die amptelike adres (wat juis deur laasgenoemde opgestel is) van die swart inwoners van die stad aan die goewerneur-generaal van Suid-Afrika, lord Buxton, tydens sy besoek aan die Waaihoek-township oor te dra. Tussen Msimang en veral Twayi het harde woorde hieroor geval omdat eersgenoemde dit na die tyd as te “onderdanig” aan die wit heersers afgemaak het.[21]

Die vrywing tussen die twee leiers sou so ‘n gespanne situasie in die swart townships veroorsaak dat leiers soos S. Moroko en Ernie Panyani die owerheid sou waarsku dat die Msimang-faksie aan die een kant en die ondersteuners van Twayi en die adviesraad aan die ander kant se antagonisme teenoor mekaar in geweld kan ontplof.[22]

Aangesien Msimang die werksaamhede van hierdie adviserende swart raad met agterdog bejeën het as te gematig en onderdanig teenoor die wit heersers – “stooges” sou hy hulle noem[23] – en dit soms persoonlik op Twayi gemik het, het dit kennelik die betrekkinge tussen hierdie twee vooraanstaande leiers verder vertroebel en die swart samelewing in faksies gedwing.[24] Msimang se openlike afkeur van die Adviserende Naturelleraad het vanselfsprekend deurgesyfer na sy ondersteuners en met dié dat die SANNC as sodanig ook nie juis positief daarteenoor gestaan het nie, het dit dié raad dikwels in ‘n onbenydigingswaardige posisie geplaas om ‘n sinvolle rol te speel. So gefrustreerd het Twayi met Msimang geword—daar is beweer Msimang gebruik die adviserende raad se insette net vir sy eie doeleindes waarna hy hulle ignoreer—dat Twayi in ‘n stadium aanbeveel het dat dié raad tydelik ontbind moes word omdat hy voel hulle word net misbruik. Hiervoor was die stadsraad nie te vinde nie aangesien dit onregverdig sou wees teenoor diegene wat tog die raad ondersteun het.[25] Dít alles het vanselfsprekend bygedra om ‘n eenheidsfront vir hoër lone te benadeel. 

Werkgewers se reaksie

Die loonagitasie van Msimang en sy volgelinge het die plaaslike owerheid genoegsaam onrustig gelaat sodat hulle inmiddels ‘n sub-komitee aangewys het om die loonopset te ondersoek. Gesien in die lig dat lewenskoste gestyg het, het dié komitee ‘n uniforme loon van 2s. 3d. per dag vir aanvangswerkers voorgestel wat na ses maande na 2s. 6d. en na 18 maande na 2s. 9d. verhoog sou word, terwyl vir semi-geskoolde arbeiders en diegene in verantwoordelike posisies spesiale terme kon geld. Op 15 Februarie 1919 is hierdie amptelike verslag wat die stadsraad aanvaar het, tydens ‘n vergadering aan die besigheidsektor en ander belangrike werkgewers van ongeskoolde arbeid voorgelê. Onder hulle was die Suid-Afrikaanse Spoorweë, die provinsiale departement van openbare werke, The Friend-maatskappy, die bekende besigheid G.A. Fichardt Bpk., die C.W. Champion-firma, Suid-Afrikaanse Brouery en Master Builders’ Association.[26]

Tydens ‘n byeenkoms van die Komitee vir Naturellesake en verteenwoordigers van die Adviserende Naturelleraad op 18 Februarie 1919 om die loonkwessie te bespreek, het Twayi as woordvoerder, volgens die notule, dié woorde gebesig: “As an Advisory Council they had not taken up the attitude of demanding 4/6 a day. That was unreasonable although they would not refuse it if offered. Every native was not worth 4/6 a day whereas 2s. 3d. as a minimum was fair to all.”[27] Maar, het hy bygevoeg, as adviserende liggaam sou dit vir hulle problematies wees om met dié aanbod by hul mense aan te kom en dat 2s. 6d. wat styg na 3s. 6d. en 3s. 9d. ‘n beter aanbod sou wees.[28]

Ofskoon Twayi waarskynlik gelyk gehad het dat die adviserende raad nie so veeleisend na 4s. 6d. gestreef het nie, omdat dit in die praktyk nie haalbaar voorgekom het nie, was die res van die uitlating klaarblyklik sy eie mening. Die opmerking van Twayi het ‘n korrespondent van The Friend laat aanneem dat die Adviserende Naturelleraad te vinde is vir die werkgewersvoorstel van ‘n minimum loon van 2s. 3d., maar dit is ten sterkste deur die sekretaris van die liggaam, Shadrach G.B. Molokane, in ‘n brief aan die koerant ontken.[29]

Nietemin het die berig aanvanklik groot verontwaardiging onder swart werkers ontlok. Vanselfsprekend het die gebeure ook verdere spanning tussen die Msimang- en Twayi-kamp veroorsaak, want dit was immers duidelik dat laasgenoemde nie die Msimang-voorstel, wat vanselfsprekend verreweg die werkers se keuse was, heelhartig ondersteun het nie. Deur sterk leierskap en fyn oorredingsvermoë het Msimang egter grootliks onenigheid onder die blokmanne van die swart woonbuurte en ander leiersfigure uitgeskakel sodat hulle saam met die massa ‘n verenigde front vir ‘n minimum loonaanpassing na 4s. 6d. gevorm het. Die loonvoorstelle van die werkgewers is weldra op aandrang van Msimang deur die werkers van die tafel gevee en daar is dus steeds op 4s. 6d. aangedring.[30] 

Die impak van die loonagitasie, veral herhaalde dreigemente dat ‘n volskaalse staking op hande is, was weldra van so ‘n aard dat die verskillende werkgewers weinig van ‘n keuse gehad het as om op 26 Februarie 25 swart afgevaardigdes te ontmoet om die kwessie te bespreek. Na ‘n hewige debat tussen die partye oor lewenskoste en wat die loonverhoging dienooreenkomstig behoort te wees, asook ‘n hewige kruisondervraging wat Msimang as hoofwoordvoerder moes verduur, het hy steeds by 4s. 6d. vasgestaan omdat die lyding van die swart werkers as gevolg van swak lone dit regverdig het.[31]

Veral stadsraadslid C.L. Botha (fig. 3), ‘n voormalige burgemeester en wat ironies genoeg later Msimang se regsverteenwoordiger sou wees toe hy daarvan aangekla is dat hy openbare geweld aangestook het, was ontstig oor Msimang se openbare uitlatings wat hy as ‘n dreigement vertolk het “dat iets kan gebeur” as nie aan die looneise toegegee word nie. Hy het die swart leier op die vergadering daarmee gekonfronteer. Botha wou weet of hy die kwessie moes bespreek met “a pistol at my head”. Msimang het slinks en diplomaties daarop gewys dat hy met sy uitsprake slegs bedoel dat ‘n tekort aan arbeid op ongeslaagde loononderhandelings kon volg. Van die ander swart verteenwoordigers het bevestig dat daar geen dreigement in die kwessie is nie en dat die loonverhogings bloot ‘n beleefde versoek is.[32]

C.L. Botha

Figuur 3. C.L. Botha (foto: Nasionale Museum)

Die volgende dag het die betrokke werkgewers van die owerheid en die meeste van die kommersiële firmas in die privaat sektor in die raadskamer onder voorsitterskap van die burgemeester, D.A. Thomson (fig. 4), vergader om uitsluitsel oor die loonkwessie te kry. Hy was juis van mening dat “we are convinced we cannot go wrong if we try to improve their everyday conditions of living, housing and cleanliness”.[33]

D.A. Thomson

Figuur 4. D.A. Thomson (foto: Nasionale Museum)

Na ‘n hewige debat, want sommige was van oordeel dat enige verdere toegewings op die vorige besluit as ‘n teken van swakheid vertolk kon word met gepaardgaande verdere aggressiewe eise, is uiteindelik met ‘n meerderheidstem van 14 teen 10 besluit om die swart werkers tegemoet te kom. Op die voorstel van raadslid A.G. Barlow wat ook by die Arbeidersparty betrokke was, is die minimum loon toe op 2s 6d.  vasgestel wat na 12 maande bevredigende diens na 2s. 9d. sou opskuif. Enkele verteenwoordigers het buite stemming gebly. By hierdie vergadering het van die betrokkenes Msimang ook kwalik geneem vir die onversetlike agitasieveldtog. Daar is geredeneer dat die swart werkers in staat was om deur die oorlog met hulle lone te oorleef totdat die agitator (Msimang) hulle tot ander insigte gebring het. Msimang is ook snedig daarvan beskuldig dat hy niks anders het om sy tyd mee te verwyl nie as om te agiteer nie.[34]

Raadslid J.H.B. Reitz sou onomwonde dreig, waarskynlik as teenvoeter vir die soms aggressiewe optrede van Msimang en sy volgers, dat as die loonbetogers hardnekkig bly, “they would ultimately come to deadlock, or perhaps bloodshed”.[35]

Msimang word gearresteer en gewelddadige uitbarstings

In dié sensitiewe stadium van die onderhandelinge is Msimang op Vrydagoggend, 28 Februarie 1919, gearresteer op aanklag dat sy optrede by die byeenkoms van die 23ste ‘n aansporing tot openbare geweld sou wees. Hierdie gebeure het onmiddellik aan hom “martelaarstatus” besorg en sy aansien onder sy mense verhoog.  Volgens bewering het A.G. Barlow, met wie hy skynbaar bevriend was, hom gewaarsku om uit Bloemfontein te verdwyn, maar hy het onverskrokke verkies om die wet sy gang te laat gaan. Dieselfde middag van sy arrestasie is Msimang voorlopig voor die hof gedaag met waarnemende magistraat C.W.F. Atkinson op die bank, terwyl J.S. Franklin (fig. 5), later twee keer burgemeester van die stad, vir die beskuldigde verskyn het. Die gebou was vol van sy ondersteuners, asook heelwat leiersfigure van die swart woonbuurte, terwyl daar ‘n groot samedromming buite was – “mostly of the loafer and waster type”, aldus Reuter’s South African Services.[36] ‘n Voorlopige verhoor is vir die Maandag geskeduleer. Aan Msimang is nie borg toegestaan nie aangesien die staatsaanklaer van mening was dat hy ‘n gevaar vir die samelewing is. Hy is glimlaggend met ‘n tronkwa na die gevangenis geneem en sou weer die Maandag in die hof verskyn.[37]

J.S. Franklin

Figuur 5. J.S. Franklin (foto: VPAB)

Waarskynlik vanweë sy statuur in die samelewing is Msimang in die tronk met die nodige bedagsaamheid behandel. Ofskoon hy in isolasie aangehou is, is hy toegelaat om sy maaltye van die huis te kry en veral sy skoonfamilie het toe na sy behoeftes omgesien.[38] Inderdaad “a very gentlemanly detention by the standards prevailing at the time of his death,” is dekades later onder die apartheidstelsel in die land opgemerk.[39]

Dit was juis sy arrestasie wat die gewelddadige reaksie—die ergste die vorige anderhalf dekade het sommige geoordeel[40] —uitgelok het wat die blankes gevrees het, want onder die swartes is algemeen geglo dat dit toe te skryf was aan sy stryd om hul lone te verbeter. So ontsteld was van sy volgelinge oor die gebeure, dat hulle die aand na sy opsluiting in Waaihoek byeengekom het waar hulle nie gehoor gegee het aan Peter Phatlane se oproep om fondse vir Msimang se verdediging te voorsien nie, maar eerder vasbeslote was om hom uit aanhouding te bevry. ‘n Luidrugtige groep van tussen 400 en 500 het onderskeidelik na die polisiekantoor en die gevangenis opgeruk om onsuksesvol op sy vrylating aan te dring. ‘n Swart sersant, Philip Rantake, het genoemde byeenkoms bygewoon en betyds verlaat om per fiets die polisie te waarsku wat hulle toe ingewag het. Van die betogers was onder die invloed van drank wat ‘n gevaarlike dimensie aan die situasie verleen het. Met die terugkeer van die groep na die township het hulle in Harveyweg klippe na die burgemeester se motor gegooi en ook van die huise van die lede van die Adviserende Naturellekomitee oftewel blokmanne (soos hulle in die algemeen bekend was), waaronder dié van Twayi en Phatlane, met klippe bestook. Vensters en verandas is onder meer beskadig. In ‘n stadium het een van die aanvoerders hom op die dak van Twayi se huis bevind van waar hy sy ondersteuners luid toegespreek het.[41] Heelwat van die “industrious and sober section of the natives” is glo in hul nagrus deur die oproeriges gesteur.[42]

Hierdie beskadiging van sommige van die amptelike swart leiers se eiendom kan waarskynlik daaraan toegeskryf word dat van hulle nie juis gewild onder ‘n deel van die swart gemeenskap was nie en die opstandelinge steeds gegrief was omdat van hierdie leiers aanvanklik nie die Msimang-loonvoorstel volmondig wou ondersteun nie. Verder moet in gedagte gehou word dat die krapperigheid tussen Msimang en Twayi na alle waarskynlikheid dienooreenkomstig die optrede van eersgenoemde se meer radikale ondersteuners sou beïnvloed.

Die polisie wat teen die oproeriges uitgestuur is, is ook met klippe bestook en aan uittarting blootgestel. Slegs nadat skote oor die oproermakers se koppe geskiet is, het die uitbarsting van geweld geëindig. Etlike polisiemanne is beseer. Hoofkonstabel W.R.E. Webb sou later getuig dat hy deur ‘n knopkierie of klip teen die kakebeen getref is en sedertdien aan tetanus ly. Van die belhamels is gearresteer,[43] naamlik Koos Lepiphane, Willie Mali, Barend Pitso, Samuel Pathlane, Morgan Molooi, George Marakabe en Nephtah M’Putlani. Eersgenoemde vier sou later op die aanklag van geweldpleging vrygespreek word, terwyl die ander drie tot vier maande tronkstraf gevonnis is weens die gooi van klippe na die polisie en die vernietiging van privaat eiendom. Die regter sou beslis dat hulle oortreding te ernstig was om net ‘n boete op te lê soos versoek deur die verdediging. Tog het hy in ag geneem dat hulle waarskynlik deur die oomblik meegevoer was en daarom was hy nie te hard op hulle wat die vonnisoplegging betref nie.[44]

‘n Gespanne stilte het te midde van polisie-gereedheid die betrokke naweek oor die stad gehang, maar geen verdere voorvalle van geweldpleging het voorgekom nie. Meningvormers en die wit pers was van oordeel dat verreweg die meerderheid swart mense die loonkwessie vreedsaam wou oplos en dat dit slegs ‘n aantal heethoofde was—“the reckless and undesirable Kaffirs”[45]—opgesweep deur Msimang se uitsprake, wat onder die dekmantel van die kwessie ter wille van rassepropaganda gewelddadig geraak het. Daar is gepleit dat die loonbetogings vreedsaam moes verloop om enige positiewe resultate te bewerkstellig en dat oproermakers met mag en mening en die volle vuis van die wet tot orde geroep moes word.[46]

Die Maandag toe die voorlopige verhoor van Msimang voor resident-magistraat J.A. Ashburnham en in die teenwoordigheid van ‘n horde swart ondersteuners buite en binne die stampvol hof hervat is, was die aanklaer daarop uit om Msimang in ‘n swak lig te stel en het hom onder meer as die “darling of the goal-birds of Waaihoek” voorgehou.[47] Die The Friend-verslaggewer het in die getuiebank by sy woordelikse verslag van die byeenkoms gestaan dat Msimang die gewraakte woorde gebruik het dat die swart gemeenskap gereed moes wees vir enigiets en om in hierdie donker dae uit die bitter beker van ellende te drink. Hierin is hy ondersteun deur ‘n swart sersant wat getuig het die beskuldigde het van vuurwapens gepraat en dat daar nie gevrees moes word om vir hulle doel te sterf nie. Die geregsdienaar het onder kruisverhoor toegegee dat Msimang niemand opgesweep het om die strate in te vaar en vensters te breek nie.

Getuies vir die beskuldigde het daarop gewys dat die byeenkoms wettig was, diegene wat wou hande uitruk gevra is om die verrigtinge te verlaat en dat daar ‘n vreedsame verdaging was. ‘n Swart speurder was van mening dat daar geen sprake was dat blankes uitgedelg moes word nie en dat Msimang nie rassegevoelens opgejaag het nie; hy het net aanvoorwerk vir hoër lone gedoen. Onder kruisverhoor het hy tog toegegee dat Msimang die aanwesiges versoek het om nie deur rewolwers en vuurwapens geïntimideer te word nie.[48]

Ondanks Franklin se pleidooi dat die saak uitgegooi moes word omdat geen prima facie-saak bestaan nie en getuienis dat al Msimang se sogenaamde gewraakte uitlatings steeds vertolk kon word as sou dit slegs ‘n staking en nie geweld propageer nie, het die magistraat nie daaraan gehoor gegee nie. Vir die staatsaanklaer was die saak een van die ergste wat hy nog gehanteer het. Hy het borg van £1 000 voorgestel. Die hof het die verweer gelyk gegee dat dit ‘n astronomiese bedrag vir selfs ‘n wit mens is, wat nog te sê van ‘n swart mens met hul beperkte inkomste. Dit is toe op £500 vasgestel nadat £100 weer as te min beskou is. Interessant genoeg het die SANNC-lidmaatskap as gemene deler daartoe gelei dat lede van die Adviserende Naturelleraad, Twayi inkluis, tot die borgtogbedrag bygedra het.[49]

Dit was egter steeds ‘n enorme bedrag vir daardie jare en het die gewigtigheid van Msimang en die gebeure beklemtoon, terwyl sommige van mening was dat alles daartoe bygedra het om hom tot die statuur van ‘n nasionale leier op te hef.[50]  Selfs Die Volksblad, wat hom in hierdie tyd hoofsaaklik op die bevordering van die Nasionale Party en Afrikanerbelange toegespits het en selde oor die swart gemeenskap se doen en late berig het, het die hoë borgtogbedrag en die gepaardgaande “belangrikheid” wat dit aan Msimang verleen het, as nuuswaardig genoeg beskou om ‘n paar reëls daaraan onder “Korte Opmerkinge” af te staan. Terselfdertyd is slegs terloops na die swart onrus in die stad verwys[51] – die enigste beriggie oor ‘n kwessie waaraan The Friend en ander koerante buite die Vrystaat soos The Diamond Field Advertiser etlike kolomme al om die ander dag afgestaan het.

Na hierdie hofsitting het Ashburnham al die teenwoordige swartes in die hofsaal toegespreek, tot kalmte gemaan en hulle daarop gewys dat Msimang se inhegtenisneming gegrond is op sy aansporing tot openbare geweldpleging en nie sy betoog om hoër lone nie wat sy volste reg binne die raamwerk van die wet was. Kennisgewings in die townships wat byeenkomste verbied, het die regsman voortgegaan, sou verwyder word sodra alles weer vreedsaam is.[52] In sy hoofberiggewing dieselfde dag het The Friend die minimum loon soos voortdurend deur Msimang bepleit as absurd afgemaak.[53]

Ashburnham en burgemeester Thomson het ook op versoek van die leiers van die townships, wat steeds onvergenoegd  was oor al die gebeure, die moed aan die dag gelê en ingestem om die swart inwoners in Waaihoek by die Fichardt-syspoorlyn te ontmoet. Daar kon hulle immers ‘n groter gehoor as by die hof  toespreek oor die rede vir Msimang se inhegtenisneming.  Hulle oogmerk was vanselfsprekend ook om gemoedere tot bedaring te bring. Die twee hooggeplaastes het op 6 Maart sowat 1 000 swartes, waaronder Msimang self, vanaf ‘n trollie, wat as tydelike podium moes dien, toegespreek.[54] The Friend sou tereg aankondig dat by die geleentheid geen doekies omgedraai sou word nie en op “straight talking at the location” sou neerkom.[55] 

Voordat die hooggeplaastes aan die woord gekom het, het I.J. Nthatisi ‘n adres aan hulle voorgelees. Laasgenoemde was ‘n plaaslike leier wat nie deel van Msimang se beweging uitgemaak het nie, maar dit nogtans goedgesind was. In die adres, wat woordeliks in die pers gerapporteer is, is vrede en orde as van belang in die hele loonkwessie beskou en daar is weer nederig gepleit vir die Msimang-loonaanpassing van 4s. 6d.:

“We therefore humbly beg, to request you, sir, in your capacity of Mayor, to use all your influence over the Town Council and the other bodies employing native labour in town to reconsider your decision with regard to this matter, and kindly allow yourselves as good and sympathetic masters, to come to the rescue of your poor but honest and humble servants. The cry of the people is, ‘We are perishing, masters; please make the rope a little longer so as to be within our reach and pull us up.’”[56]

Die loonagitasie, het die adres verder uitgespel, is as spontaan voorgehou en nie as ‘n radikale beweging wat van buite aangewakker is nie – soos sommige wit mense beweer het. Dit het sluimerend in die gees van die betrokkenes gelê na aanleiding van die regering se versoek dat sodanige aksies geheel en al onvanpas gedurende die oorlog was. Maar vanselfsprekend was die tyd nou ryp om die lone-strydbyl op te tel. Die polisie en die owerheid is verkwalik vir hulle drastiese optrede deur Msimang terstond op te sluit sonder om die plaaslike swart leiers in die stap te ken. Sodoende is hulle die geleentheid ontsê om gemoedere in hul samelewing te kalmeer. Dit het daartoe gelei dat die “irresponsible and unruly class of people” onhanteerbaar geword het. Die polisie—veral ene luitenant Raftery—is weliswaar in die adres geloof vir die taktvolle wyse waarop hulle die krisis gehanteer het sodat dit nie in ‘n algehele katastrofe met lewensverlies ontaard het nie.[57]

Toe hy aan die beurt kom, het die magistraat onder andere weereens beklemtoon dat hulle die volste reg het om op ‘n ordelike en wetsgehoorsame wyse vir beter lone te betoog. Terselfdertyd het hy benadruk dat Msimang en die ander nie aangekeer is omdat hulle om hoër lone betoog het nie, maar dat hulle die wet sou oortree deur opruiende uitsprake en optredes. In geen onduidelike taal het hy Msimang, wat hy as “Selby” aangespreek het en seker was hy is in die gehoor, behoorlik gekapittel dat dié leier deur slinkse woorde die vreedsame swart bevolking opgestook het om hande uit te ruk en sodoende in die moeilikheid te beland. Hy het die toehoorders versoek om swak advies te vermy en die skuld vir alles op bose raadgewers gepak. Wat as blykbaar ‘n verskuilde aanval op Msimang en aanprysing van Twayi beskou kon word, het hy opgemerk: “Do not be carried away by the rash words of newcomers, who may have been educated and clever men, but are young and inexperienced and hot-headed. Listen to the older men of more experience whom you know and who have lived amongst you for many years.”[58]

Burgemeester Thomson het in dieselfde trant gepraat en sy steun aan die minimum loon van 2s. 6d. toegesê omdat dit al is waarvoor begroot kon word. Dit was vir die aanhoorders ‘n duidelike aanduiding dat ten spyte van alle betogings en proteste die owerheid nie inskiklik was om van dié bedrag af te sien nie. Thomson het egter onnadenkend ‘n skadu oor die verrigtinge, wat tot in daardie stadium redelik versoenend verloop het, gewerp toe hy die gewraakte woorde uiter dat die ontoereikende lone waaroor gekla word aangevul moes word deur vroue wat net so hard soos die mans behoort te werk. Dié woorde het ‘n opvallende beroering onder die skare veroorsaak. Hulle afkeur daaraan het duidelik geblyk toe ‘n groot aantal net hierna die byeenkoms verlaat het. Waarskynlik uit ordentlikheid het die twee hooggeplaastes aan die einde van die verrigtinge luide applous van die oorblywendes gekry vir hul welwillendheidsbesoek. Hierna het van die swart leiers ‘n beroep op fondse vir Msimang se regskoste gedoen sodat hy as vry man die stryd vir hoër lone kon voortsit. Op sy beurt het Msimang—ongetwyfeld die man van die oomblik—die verhoog bestyg om God save the King in te sit. Hierna is hy, insiggewend genoeg as ‘n duidelike aanwysing dat die verbale aanval op hom min indruk gemaak het, skoueromhoog onder algemene gejuig rondgedra.[59]

Op 14 Maart 1919 tydens ‘n stadsraadsvergadering is die vorige besluit herroep en die minimum loon vir werkers op bogenoemde bedrag bekragtig  wat op 1 April in werking moes tree. Selfs hierdie verhoogde bedrag, so het raadslid W.M. Barnes sy mening geopper, sal nie genoegsaam wees om ‘n familie te onderhou nie en meebring dat vrouens en kinders steeds ook sal moet inspring om die pot aan die kook te hou. In sy jaaroorsig het die burgemeester die heersende loon-strydbyl tussen swart inwoners en die owerheid probeer temper deur daarop te sinspeel dat ondanks die afgelope tyd se loonrelletjies hy tog daarvan oortuig is dat Bloemfontein steeds die beste en ordentlikste swart woonbuurt in die land het en dat die swart inwoners as ‘n aanwins vir die stad beskou word.[60]

Loonstryd word hervat

Reeds teen 18 Maart is die amptelike verbod teen byeenkomste van swart mense wat ingestel is om veiligheidsredes, opgehef. Onmiddellik is die loonkwessie weer uit swart geledere te berde gebring met gepaardgaande byeenkomste om daarvoor te betoog. Hierdie keer was hulle nog beter georganiseer deurdat ‘n uitvoerende komitee in die lewe geroep is wat vir alle praktiese doeleindes die aksies in die loonstryd sou dikteer.[61]

Msimang is as verhoorafwagtende nie van stryk gebring nie. Hy het op sy beurt voortgegaan om byeenkomste weereens op veral Sondae in die Waaihoek- en Kaffirfontein-township te hou om druk uit te oefen vir hoër lone; bygesê, hy het opvallend ‘n redelike gematigde toon gehandhaaf en enige oproep om geweld of stakings vermy.[62] Desondanks is sy en die ander leiers in die loonstryd se veglus allermins gedemp. Veral Msimang sou steeds by geleentheid uitgesproke wees en oordrewe bewerings maak wat op politieke retoriek neergekom het en soms nie met die werklikheid gestrook het nie. So het hy sy ondersteuners versoek om hulle van geweldpleging te weerhou, want die geringste oortreding maak hulle ‘n teiken vir talle blankes “hungering to kill the natives”.[63] Msimang het onomwonde in die openbaar en in geen onduidelike taal polisieteenwoordigheid by swart byeenkomste veroordeel. Dit het volgens hom, op niks anders as indirekte intimidasie neergekom nie.[64]

Hoe ook al, Msimang se hoofdoel met dié byeenkomste was steeds om die swart bevolking van Bloemfontein in ‘n sterk versetbeweging teen swak lone te organiseer – “to move the four corners of the world to secure better and more just living in their own fatherland”.[65] Daarbenewens het hy voortgegaan om simpatie te toon met die ekonomiese onrus waarby swart werkers in die land betrokke was soos onder andere in Johannesburg en aan die Rand, asook in Harrismith, en om geweldpleging in die algemeen, hetsy deur die toedoen van swart of wit, te veroordeel. Oor die Johannesburgse loonprotes sou hy hom juis so uitlaat: “The whites and natives had not used patience; the devil was ruling there, and there was almost bloodshed.”[66]

Hy het sy volgelinge daarop gewys dat die wit man alles in werking probeer stel om die loonagitasiebeweging te kortwiek, want hulle besef as die beweging eers ten volle georganiseer is daar weinig keer daaraan sou wees om die doelstellings te bereik. ‘n Verskuilde dreigement het weer sy woordkeuse omvat: “There could only be one outcome of these events – the white man is fighting his last battle. Theirs was the incomplete force of organized labour but it would be completed soon. They were the natives of the country, and could not be deported, so they have nothing to fear.”[67]

Volgens sy eie siening het die organiseringsproses in Bloemfontein suksesvol verloop, want daar is geslaag om die swart woonbuurte in seksies te verdeel en ‘n uitvoerende komitee is saamgestel wat uit die leiers van die verskillende seksies bestaan. Geen leier is tot hierdie komitee toegelaat nie tensy hy ‘n beduidende aantal volgelinge het sodat die komitee onmiddellik weet hoeveel gewig dra die standpunt wat so ‘n leier sou verteenwoordig. Hierdie uitvoerende komitee sou voortaan die leiding in die loonagitasie neem. Msimang het opgemerk dat die komiteelede kalm en geduldig in hulle optrede is en sy afkeur getoon aan die heethoofde in die swart woonbuurte wat nie oorreed kon word om geduld aan die dag te lê nie. Verder het hy ook op Sondag, 6 April, tydens ‘n byeenkoms van swart vroue hulle aangespoor om op dieselfde wyse as die mans te organiseer. Gevolglik is ‘n vrouekomitee vir die doel in die lewe geroep.[68]

Msimang het ondanks sy redakteur- en eienaarskap van die koerantjie Morumioa[69] steeds gerieflik voortgegaan om van die wit pers, en by name The Friend, gebruik te maak om sy standpunt oor swak werkerslone te propageer. Sy blaadjie het beperkte trefwydte gehad en laasgenoemde koerant was by uitstek die nuusblad waarin die loonagitasie van alle kante hom afgespeel het. Msimang het daarop gehamer dat die naoorlogse toestande, droogte-omstandighede en die spoorwegstaking in Brittanje lewenskoste sodanig opgejaag het dat die swart mense met hul karige lone besonder swaar leef en op die platteland nie minder so nie.[70]

Die hofsaak

Op 12 Mei 1919 is Msimang in die hooggeregshof, weereens stampvol van sy ondersteuners en nuuskieriges wat die onderste vlak en die galery beset het, voor regter J. McGregor en twee assessore, te wete die magistrate van Bethlehem en Fauresmith, verhoor. In die hofstukke is die beskuldigde se roeping as joernalis aangedui en hy is soos volg beskryf: “Native, yellow complexion, about 5’7” [167,5 cm], speaks English fluently, wears drab suit and yellow woolen hat with black band.”[71] Adv. C.L. Botha, in ‘n stadium burgemeester en stadsraadslid wat taamlik gematig teenoor swart belange gestaan het,[72] het namens Msimang opgetree en die prokureur-generaal, S.J. de Jager, vir die staat.  Die amptelike klagstaat teen Msimang het gelui dat hy tydens sy toespraak van 23 Februarie 1919 voor sowat 1 000 belangstellendes “wrongfully, wickedly and maliciously incite, stir up and council the aforesaid natives wrongfully and unlawfully and by force and violence to demand and obtain an increase in their wages from their European employers residing in Bloemfontein aforesaid, and so wrongfully and unlawfully and by public violence to disturb the public peace and openly violated and set at naught the laws of good order and government …”[73]

Ondanks die verweer se dringende en geldige versoek aan die prokureur-generaal twee dae voor die verhoor dat die aanklag ongegrond is omdat die presiese woorde waaroor gekla is dat dit tot geweldpleging sou lei nêrens in die hofstukke vermeld word nie en derhalwe uitgegooi moes word,[74] het die staat meedoënloos voortgegaan met sy vervolging van Msimang.

Die regter het toe inderdaad bevind dat die akte van beskuldiging te vaag is en ‘n groot leemte in die saak skep:

“… it amounts merely to this, that a certain address was given, in the course of which certain persons were urged to demand certain wages, and that they were urged to demand it in a particular way, namely, by violence. On looking more closely into it, we do not find either the kind or class, or act of violence indicated, on the one hand; nor have we specific words quoted from the address from which the accused could sufficiently understand what was precisely the charge that was brought against him … we further find that there is no particularity, and there are no details, as to the violence complained of. Having regard to the indictment as a whole, and to the arguments which have been addressed to the Court, I am of opinion that the indictment as it stands is not one which is sufficient.”[75]

Die aanklag teen Msimang is dus nietig verklaar.[76] Die regter het almal in die hofsaal vermaan om nie volgens oerwoudwette te leef nie, maar volgens beskaafde norme. Oudergewoonte het Msimang ‘n groot helde-ontvangs van sy mense buite die hofgebou ontvang.[77] 

Slot 

Met die afsluiting van die hofsaak is hierdie spesifieke loon-aangeleentheid afgehandel. Ofskoon die swart werkers in daardie stadium slegs ‘n klein verhoging gekry het, was dit tog vir hulle ‘n oorwinning om deur merendeels georganiseerde agitasie die owerheid tot so ‘n toegewing te laat instem, grootliks aan Msimang se deursettingsvermoë te danke. Ter herdenking van Msimang se leeue-aandeel in die loonagitasie is ‘n deel van dié swart woonbuurte “Four and Six” genoem, terwyl ‘n straat in dié deel ook na hom vernoem is.[78]

Ofskoon geweld ook ter sprake was, is dit immers gekenmerk deur geen lewensverlies soos by die latere een nie en hoewel gering, het die verset resultate gelewer in teenstelling met die 1925-opstand se griewe wat nie onmiddellik aandag gekry het nie.

Enkele maande na genoemde hofsaak sou Msimang weer die strydbyl om hoër lone opneem. Na ‘n reis deur die Vrystaatse platteland waar hy die swaarkry van sy mense aanskou het, het hy as organiseerder van die ICU ‘n ernstige en hartroerende pleidooi in The Friend, wat hy in keurige Engels geskryf het, aan werkgewers gerig.  Hierin doen hy ‘n beroep aan hulle om na die ontwrigting van die oorlog en die Groot Griep-epidemie van 1918, gepaardgaande met die snelle verhoging van lewenskoste beter lone vir werkers te oorweeg sodat hulle in die moeilike tye kon oorleef. In die brief speel hy skaamteloos op die Christelike bewussyn van die betrokkenes:

“I write therefore to appeal most respectfully but with all the force of language that can be employed to move man to do his duty to humanity irrespective of colour. I know that a native is regarded by some as a natural enemy, but, please God, let the spirit that permeated the employers during the influenza epidemic once more exemplify itself and force the truth even in the most miser-like hearts of the employers that the Free State is being threatened by an epidemic [swak lone] of a different nature but comparatively in excess by reason of its seriousness … It is no disgrace to do good to man, but an honour to save humanity, for that is the spirit of Christianity and civilization.”[79]

Met verloop van tyd is 3s. per dag deur werkgewers toegestaan, maar dit was eers in 1929 dat ‘n algemene sprong tot by 3s 6d. gemaak is as gevolg van volgehoue agitasie, aangehelp deur die wit vakbondkongres (SACTU) en moontlik ook deur die geweldpleging van 1925 en die daaropvolgende jaar se sterk loonagitasie.[80] 

Bronne 

I Argivale bronne 

(i) VPAB: Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek, Bloemfontein

Argief van die Stadsklerk van Bloemfontein (MBL)

VPAB: MBL 1/2/4/1/3, Report of the Superintendent of Locations, Februarie 1919

VPAB: MBL 1/2/4/1/3, Minutes of a Special Meeting of the Native Affairs Committee … for the purpose of discussing the question of increasing Native wages with the Native Advisory Council, 18 Februarie 1919.

VPAB: MBL  1/1/1/21, Minutes of an Adjourned Meeting of the Town Council, 14 Maart 1919.

VPAB: MBL 1/2/4/1/3, Report of the Superintendent of Locations, Junie 1919.

VPAB: MBL 1/2/4/1/4, Superintendent of Locations – Town Clerk Bloemfontein, 17 Februarie 1920.

VPAB, MBL 1/1/1/21, Minutes of a Special Meeting of the Town Council, 27 Februarie 1920.

VPAB: MBL 1/2/4/1/4, Superintendent of Locations – Town Clerk Bloemfontein, 14 Mei 1920.

VPAB: MBL 3/1/19, Mayor’s minute, 1919-1920.

MBL 1/2/4/1/5, Report of the Superintendent of Locations, Maart 1921.

Argief van die Griffier van die Hooggeregshof van Suid-Afrika, (HG)

VPAB, HG 4/1/2/1/171, no 266/1919, Supreme Court: King versus Henry Selby Msimang, Warrant of Apprehension, 3 Maart 1919.

VPAB, HG 4/1/2/1/171, no 266/1919, Supreme Court: King versus Henry Selby Msimang, E. Franklin – Prokureur-generaal, 10 Mei 1919.

  • APC: Alan Paton Centre and Struggle Archives, Universiteit van KwaZulu-Natal, Pietermaritzburg 

John J.W. Aitchison-versameling, JAC (PC)

APC: PC (JAC) 14/1/2/2, Manuskrip: ongepubliseerde outobiografie van H. Selby Msimang, 1971–1972. 

II Periodieke publikasies 

Cape Argus, 1919.

Die Volksblad, 1919.

Star, 1919.

The Diamond Fields Advertiser, 1919.

The Friend, 1918, 1919 en 1926.

Umteteli wa Bantu, 1926. 

III Literatuur

Dean, D.S. Black South Africans – A Who’s Who, 57 Profiles of Natal’s Leading Black. Kaapstad, 1978.

Giliomee, H. & Mbenga, B. (reds.), Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad, 2007).

Karis, T. & Carter, G. (reds.), From Protest to Challenge – A Documentary History of African Politics in South Africa. Stanford, 1987.

Keeble, S. (red.), The Black Who’s Who of Southern Africa Today. Johannesburg, 1979.

Mancoe, J. First edition of the Bloemfontein Bantu and Coloured People’s directory. Bloemfontein, 1934.

Mkhize, S.M. Class consciousness, non-racialism and political pragmatism: Apolitical biography of Henry Selby Msimang, 1886-1982. D.Phil., Universiteit van die Witwatersrand, 2015.

Pretorius, F. (red.), Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag. Kaapstad, 2012.

Schoeman, K. Bloemfontein – Die Ontstaan van ‘n Stad 1846–1946. Kaapstad, 1980.

Verwey, E.J. (red.), New Dictionary of South African Biography, volume 1 (HSRC Publishers, Pretoria, 1995);

Wickens, P.L. The Industrial and Commercial Workers’ Union. Kaapstad, 1978. 

IV Artikels 

Brown, P. Henry Selby Msiman, Natalia, 12, Desember 1982.

Haasbroek, J. Die verhouding tussen die swart inwoners en die stadsraad van Bloemfontein gedurende die Oranjerivierkolonie-tydperk, 1902-1910, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein, 13 (4), September 1997.

Haasbroek, J. Die rol van Henry Selby Msimang in Bloemfontein 1917-1922, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein, 16(3), Julie 2000.

Haasbroek, J. The Native Advisory Board of Bloemfontein 1913-1923, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein, 19(4), Julie 2003.

Hindson, S. Selby Msimang and Trade Unions, Reality: A Journal of liberal and radical opinion, 9(1), 1977.

Le Roux, C.J.P. Rol van die Naturelle-adviesraad op plaaslike bestuursvlak in Bloemfontein”, Contree – Tydskrif vir Suid-Afrikaanse Stedelike en Streeksgeskiedenis, 25, April 1989.

Le Roux, C.J.P. Die Bloemfonteinse oproer van 1925, Contree – Tydskrif vir Suid-Afrikaanse Stedelike en Streeksgeskiedenis, 29, April 1991.

Starfield, J. Not quite history: The autobiograhies H. Selby Msimang and R.V. Selope Thema and the writing of South African history, Social dynamics: A Journal of African Studies, 14(2), 1988.

[1]     J. Mancoe, First edition of the Bloemfontein Bantu and Coloured People’s directory, p. 98.

[2]     Vgl. C.J.P. le Roux, “Die Bloemfonteinse oproer van 1925”, Contree – Tydskrif vir Suid-Afrikaanse Stedelike en Streeksgeskiedenis, 29, April 1991. Die 1925-onrus het vyf dooies en 24 gewondes opgelewer.

[3]     H. Giliomee & B. Mbenga (reds.), Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika, p. 245; F. Pretorius (red.), Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag, p. 290.

[4]     Ofskoon Msimang (1886–1982) slegs sowat vyf jaar in Bloemfontein gewoon het, was hy ongetwyfeld een van die bekendste swart leiers wat die stad opgelewer het. As gekwalifiseerde onderwyser (‘n beroep wat hy nooit betree het nie) en seun van ‘n predikant was hy ‘n opgevoede man wat uitstekend Engels gepraat en sterk Christelike waardes gehandhaaf het. Reeds vroeg in sy lewe het hy ‘n politieke bewussyn openbaar sodat hy ‘n stigterslid van die South African Native National Congress (SANNC) in 1912 was. Sedertdien het hy verskeie belangrike posisies in die swart politiek beklee, waaronder die eerste sekretaris van die Industrial and Commercial Workers Union (ICU) in 1919, die jaar daarna president van die Industrial and Commercial Workers’ Union of Africa (ICWU) en later ook sekretaris van die All-African Convention (1935) en van die ANC in Natal, terwyl hy in 1953 ‘n stigterslid van die veelrassige Liberale Party geword het en weldra nasionale ondervoorsitter. Met sy dood was hy lid van Inkatha. Dit sou sy lewenslange strewe wees om sy mense op plaaslike en nasionale vlak te dien en op te hef, veral waar hulle menseregte en vryheid aangetas is en sy idiosinkratiese kombinasie van pragmatisme en radikalisme het hom ideaal daartoe verleen.  Die lewe van Msimang kan onder andere in die volgende werke nagespeur word: APC: PC (JAC) 14/1/2/2, Manuskrip: ongepubliseerde outobiografie van H. Selby Msimang, 1971–1972; S.M. Mkhize, Class consciousness, non-racialism and political pragmatism: Apolitical biography of Henry Selby Msimang, 1886–1982. D.Phil., Universiteit van die Witwatersrand, 2015: S. Hindson, Selby Msimang and Trade Unions, Reality: A Journal of liberal and radical opinion, 9(1), 1977; J. Starfield, Not quite history: The autobiographies of H. Selby Msimang and R.V. Selope Thema and the writing of South African history, Social dynamics: A Journal of African Studies, 14(2), 1988; E.J. Verwey (red.), New dictionary of South African biography, volume 1; S. Keeble (red.), The Black who’s who of Southern Africa today; D.S. Dean, Black South Africans – A who’s who, 57 profiles of Natal’s leading blacks; T. Karis & G. Carter (reds.), From protest to challenge – A documentary history of African politics in South Africa; P. Brown, Henry Selby Msimang, Natalia, 12, Desember 1982.

[5]     ‘n Vroeëre studie van die outeur, te wete, J. Haasbroek, “Die rol van Henry Selby Msimang in Bloemfontein 1917-1922”, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein, 16(3), Julie 2000, bevat die algemene leidende rol van Msimang in Bloemfontein en sy bydrae tot die loonagitasie van 1919 vorm slegs ‘n onderdeel van die werk. In hierdie studie word sy rol daarin in diepte ontleed, d.w.s. dit speel op plaaslike vlak af, terwyl die stand van die arbeidsonrus in die land en Msimang se betrokkenheid daarby as leiersfiguur in die ICU net op die periferie aangeraak word omdat dit ‘n studie op sy eie behels.

[6]     Umteteli wa Bantu, 6 Maart 1926.

[7]     The Friend, 17 Julie 1918.

[8]     APC: PC (JAC) 14/1/2/2, Manuskrip: ongepubliseerde outobiografie van H. Selby Msimang, 1971–1972, p. 94.

[9]     The Diamond Fields Advertiser, 27 Februarie 1919; Mkhize, p. 89. Met die instelling van die metrieke stelsel in 1961 in Suid-Afrika was 1 sjieling (1s.) = 10c en 1 pennie (1d.) = 1c.

[10]    C.J.P. le Roux, “Rol van die Naturelle-adviesraad op plaaslike bestuursvlak in Bloemfontein”, Contree – Tydskrif vir Suid-Afrikaanse Stedelike en Streeksgeskiedenis, 25, April 1989, p. 8.

[11]    The Diamond Fields Advertiser, 7 Februarie 1919.

[12]    The Friend, 17 Februarie 1919.

[13]    The Friend, 17, 21 en 24 Februarie 1919; Rand Daily Mail, 7 Februarie 1919; APC: PC (JAC) 14/1/2/2, Manuskrip: ongepubliseerde outobiografie van H. Selby Msimang, 1971–1972, p. 95.

[14]    The Friend, 21 Februarie 1919; T. Cameron (hoofred.), Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld, p. 231.

[15]    The Friend, 7 Maart 1919.

[16]    The Friend, 24 Februarie 1919; 1 Maart 1919; K. Schoeman, Bloemfontein. Die ontstaan van ‘n stad 1846–1946, p. 282.

[17]    The Friend, 19 Februarie 1919, Mkhize, p. 90.

[18]    Haasbroek, “Die rol van Henry Selby Msimang …, pp. 34–36.

[19]    Die Adviserende Naturelleraad (Native Advisory Board) wat in 1913 as Bloemfonteinse munisipale instelling tot stand gekom het waarin verkose blokmanne of leiers van die verskillende blokke of wyke in die swart woonbuurtes gedien het, het tot 1923 as sodanig voortbestaan. Deur die totstandkoming van hierdie demokraties-verkose raad het die swart gemeenskap van Bloemfontein vir die eerste keer werklik amptelik betrokke geraak by hulle munisipale belange. Hulle posisie in die praktyk en in die daaglikse gang van sake was egter meermale onbenydenswaardig en moeilik. Die raad was slegs eng adviserend van aard en steeds deeglik ondergeskik aan die wit owerheid. Hulle het dus min beweegruimte gehad om werklik kragdadig op te tree en hulle mag was vanselfsprekend beperk. Ofskoon die adviserende liggaam dikwels gebuk moes gaan onder verdagmakery en beswaddering dat hulle slegs lakeie van die wit owerheid is en dat hulle vir eie gewin en aansien in die raad gedien het, blyk dit tog dat hulle as lede van ‘n instelling wat nog in sy kinderskoene was en in werklikheid besig was om baanbrekerswerk te doen, meermale opreg gepoog het om die belange van hulle mense te dien. Vgl. J. Haasbroek, “The Native Advisory Board of Bloemfontein 1913-1923”, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein, 19(4), Julie 2003.

[20]    Mancoe, p. 83.

[21]    The Friend, 21, 27, 28 en 29 Augustus 1918.

[22]    VPAB: MBL 1/2/4/1/3, Report of the Superintendent of Locations, Junie 1919.

[23]    APC: PC (JAC) 14/1/2/2, Manuskrip: ongepubliseerde outobiografie van H. Selby Msimang, 1971–1972, p. 91;  Mkhize, p. 80.

[24]    Waar Twayi in 1920 nog onbestrede tot die adviesraad verkies is, het Msimang se negatiewe kritiek teen hom heel laas daartoe gelei dat hy met ‘n volgende verkiesing uitgeval het. Vgl.  VPAB: MBL 1/2/4/1/4, Superintendent of Locations – Town Clerk Bloemfontein, 14 Mei 1920;  MBL 1/2/4/1/5, Report of the Superintendent of Locations, Maart 1921.

[25]    VPAB: MBL 1/2/4/1/3, Report of the Superintendent of Locations, Februarie 1919; VPAB: MBL 1/2/4/1/4, Superintendent of Locations – Town Clerk Bloemfontein, 17 Februarie 1920, 14 Mei 1920; Report of the Superintendent of Locations, Februarie 1919; MBL 1/2/4/1/5, Report of the Superintendent of Locations, Maart 1921.

[26]    The Friend, 17 Februarie 1919.

[27]    VPAB: MBL 1/2/4/1/3, Minutes of a Special Meeting of the Native Affairs Committee … for the purpose of discussing the question of increasing Native wages with the Native Advisory Council, 18 Februarie 1919.

[28]    VPAB: MBL 1/2/4/1/3, Minutes of a Special Meeting of the Native Affairs Committee … for the purpose of discussing the question of increasing Native wages with the Native Advisory Council, 18 Februarie 1919.

[29]    The Friend, 24 Februarie 1919.

[30]    The Friend, 21 en 24 Februarie 1919.

[31]    The Diamond Fields Advertiser, 18 en 27 Februarie 1919.

[32]    The Diamond Fields Advertiser, 27 Februarie 1919.

[33]    VPAB: MBL 3/1/19, Mayor’s minute, 1919–1920.

[34]    The Friend, 28 Februarie 1919. Tydens ‘n stadraadsvergadering op 14 April 1919 waartydens Thomson as burgemeester herkies is, het hy in sy burgemeestersverslag daarop gewys dat in sommige gevalle by groot firmas die loon op 3s. 6d. neerkom. Vgl. The Friend, 15 April 1919.

[35]    The Friend, 28 Februarie 1919.

[36]    The Diamond Fields Advertiser, 3 Maart 1919.

[37]    The Friend, 1 Maart 1919; Dean, p. 118; Schoeman, p. 281.

[38]    APC: PC (JAC) 14/1/2/2, Manuskrip: ongepubliseerde outobiografie van H. Selby Msimang, 1971–1972, p. 96.

[39]    Natalia, 12, Desember 1982. Vgl. ook  Schoeman, p. 281.

[40]    The Diamond Fields Advertiser, 3 Maart 1919.

[41]    The Friend, 1 en 21 Maart 1919.

[42]    The Friend, 1 Maart 1919.

[43]    The Friend, 4 Maart 1919.

[44]    The Friend, 21 Maart 1919, 13 Mei 1919.

[45]    The Friend, 3 Maart 1919. Destyds is die woord “Kaffir” of “Kaffer” algemeen vir swart mense in veral wit mense se omgangstaal gebruik sonder dat dit werklik as kwetsend beskou is, maar vandag is dit lankal ‘n onbetaamlike woord wat taboe is.

[46]    The Diamond Fields Advertiser, 3 Maart 1919; Cape Times, 3 Maart 1919; P.L. Wickens, The Industrial and Commercial Workers’ Union, p. 44.

[47]    The Friend, 4 Maart 1919.

[48]    The Friend, 4 Maart 1919.

[49]    The Friend, 4 en 5 Maart 1919; Mkhize, p. 93.

[50]    Mkhize, p. 92.

[51]    Die Volksblad, 4 Maart 1919.

[52]    The Friend, 4 Maart 1919.

[53]    The Friend, 3 Maart 1919.

[54]    The Friend, 7 Maart 1919.

[55]    The Friend, 7 Maart 1919.

[56]    The Friend, 7 Maart 1919.

[57]    The Friend, 7 Maart 1919; Schoeman, p. 281.

[58]    The Friend, 7 Maart 1919.

[59]    The Friend, 7 Maart 1919; Star, 7 Maart 1919; Cape Argus, 7 Maart 1919.

[60]    VPAB: MBL  1/1/1/21, Minutes of an Adjourned Meeting of the Town Council, 14 Maart 1919; The Friend, 15 Maart 1919.

[61]    The Friend, 18  Maart 1919.

[62]    The Friend, 18 Maart 1919; Wickens, p. 44.

[63]    The Friend, 7 April 1919.

[64]    The Friend, 7 April 1919.

[65]    The Friend, 7 April 1919.

[66]    The Friend, 7 April 1919.

[67]    The Diamond Fields Advertiser, 5 April 1919.

[68]    The Diamond Fields Advertiser, 5 April 1919; Cape Times, 7 April 1919; The Friend, 7 April 1919.

[69]    Msimang se baanbrekerswerk met die koerantjie was blykbaar voortydig. Afgesien van Kimberley was die afset beperk weens onder andere armoede en ongeletterdheid. Adverteerders het dit dus nie juis ondersteun nie en vroeg in die 1920’s het dit verdwyn. Aangesien geen eksemplare daarvan behoue gebly het nie, het waarskynlik heelwat sienings van Msimang en ander swart leiers, wat aangeneem kan word hulle hierin sou verkondig, verlore gegaan. Vgl. Haasbroek, Die rol van Henry Selby Msimang …, pp. 49–51.

[70]    The Friend, 16 Oktober 1919.

[71]    VPAB, HG 4/1/2/1/171, no 266/1919, Supreme Court: King versus Henry Selby Msimang, Warrant of Apprehension, 3 Maart 1919.

[72]    J. Haasbroek, “Die Verhouding tussen die Swart Inwoners en die stadsraad van Bloemfontein gedurende die Oranjerivierkolonie-tydperk, 1902–1910, Navorsinge van die Nasionale Museum, Bloemfontein, 13(4), September 1997, p. 7.

[73]    VPAB, HG 4/1/2/1/171, no 266/1919, Supreme Court: King versus Henry Selby Msimang, Preparatory Examination, 3 Maart 1919. Vgl. ook The Friend, 13 Mei 1919.

[74]    VPAB, HG 4/1/2/1/171, no 266/1919, Supreme Court: King versus Henry Selby Msimang, E. Franklin – Prokureur-generaal, 10 Mei 1919.

[75]    VPAB, HG 4/1/2/1/171, no 266/1919, Supreme Court: King versus Henry Selby Msimang, Ruling, 12 Mei 1919, pp 5–6.

[76]    VPAB, HG 4/1/2/1/171, no 266/1919, Supreme Court: King versus Henry Selby Msimang, Ruling, 12 Mei 1919.

[77]    The Friend, 13 Mei 1919.

[78]    Mancoe, pp. 56, 82.

[79]    The Friend, 16 Oktober 1919.

[80]    Vgl. o.a. VPAB, MBL 1/1/1/21, Minutes of a Special Meeting of the Town Council, 27 Februarie 1920; The Friend, 28 Februarie 1920, 25 Februarie 1926; Le Roux, “Die Bloemfontein Oproer van 1925”, pp. 14–19; Schoeman, p. 284.

Comments are closed.